Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. (Lukas 4: 1-2)

Woensdag 14 Februarie 2024,  so op Valentynsdag, vier die wêreld Aswoensdag. Die begin van Lent, 40 dae van Lydenstyd. Hierdie is die oudste kerklike fees en het al in die vroegste eeue ontstaan. Dit is ’n reis van 40 dae, na aanleiding van Jesus se 40 dae in die woestyn sonder kos. Tradisioneel word hierdie vas oor 46 dae gedoen, want Sondae word uitgesluit omdat dit die opstanding van die Here is. Daarom begin die vas 46 dae voor Paasfees.

Baie mense kies om in hierdie tyd iets op te gee – iets waarvoor hulle baie lief is, soos koffie, sjokolade en selfs vleis. Dit word gedoen in solidariteit met die lyding van Christus.

Hierdie vas gaan egter om herontwaking en vernuwing – dit is eintlik waaroor die vastyd gaan. Dit is ’n innerlike reis van vernuwing in jou geloof, in jou verhouding met die Here Jesus en in jou navolging. Die bedoeling is nie om swaar te kry, jouself uit te honger en te ly nie. Dit is wel ’n tyd vir nuwe oorgawe aan God, ’n herwaardering van God se liefde vir jou en jou liefde vir God.

Ons noem dié tyd Lent, want in die Noordelike Halfrond is dit dan lente. Hier by ons is dit egter nou herfs. Die blare begin afval en die gras verdor. In ons geestelike ritme is dit dan ook goed om na die dooie blare in ons geestelike lewe te kyk en dit te laat gaan.

Kom ons kyk waar die tradisie begin het. Ons lees in Lukas 4 vanaf vers 1 van Jesus se versoeking in die woestyn net na sy doop in die Jordaan. God self versoek niemand, maar laat toe dat Jesus Christus versoek word om sy getrouheid, toewyding en gehoorsaamheid te toets. Die drie versoekings wat ons goed ken, het betrekking op sy amp as Priester, Profeet en Koning. In die versoekings wil Satan Jesus Christus verlei om sy Goddelike mag vir eie voordeel te gebruik. Christus weerstaan elke slinkse manipulasie en kies om volkome in diens aan God te staan. Christus gebruik elke keer die Woord van God om sterk te staan in die versoekings.

Wat maak ons met Lent of met hierdie Lydenstyd? Ons word elke dag in die wêreld versoek om te kies vir die wêreld teen God. Adam is in die paradys versoek en het gestruikel. Christus word vir 40 dae in die woestyn versoek en oorwin Satan. Soms is dit baie moeilik om nee te sê vir versoekings en kan ons selfs ons verkeerde keuses uit die Bybel verantwoord, soos Satan vir Christus wou verlei om te doen. Ons deel die sondige natuur met Adam. Maar in Christus is ons nuut gemaak. Ons lewe deur die Gees, gevul met die liefde van God.

Wysheid begin met kennis van God soos ons Hom in die Skrif ontmoet. Mag Lent tyd bring vir ’n woestynreis: ’n reis saam met God na God deur God.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap