Gemeenteleiers in die Hervormde Kerk dink tans ernstig na oor kerkwees in die huidige tydsgewrig. Hierdie nadenke het nie uitsluitlik met die dalende lidmaattal en benouende ekonomiese omstandighede te doen nie, hoewel dit wel ’n rol speel. Daar is eerder ’n opregte soeke na God se wil en hoe dit in hul gemeente en konteks kan realiseer.
Dr Ungerer:
Wat myself betref, trek ek my die situasie in die Hervormde Kerk geweldig aan. Ek is gedurig besig om antwoorde te soek oor wat God se wil vir gemeentes in die NHKA is, en hoe die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, die Hervormde Teologiese Kollege en die Sentrum vir Gemeentelike Bediening leiding in dié verband kan gee. Met die openingsrede van die 72ste AKV het ek gepoog om my denke op verstaanbare wyse te verwoord sodat dit moontlik ook rigtinggewend vir gemeentes kan wees.
Die tema tydens die openingsrede was Skep moed onderweg na 2025. Die jaartal 2025 is beduidend omdat dit met die Vierde Industriële Revolusie verband hou. Een van die voorste kenners, Klaus Schwab, voorspel dat 23 belanghebbende ontwikkelings teen daardie tyd reeds sou plaasgevind het of gaan plaasvind. 2025 behels ’n tydsduur wat nie te ver die toekoms in strek nie, en die 74ste AKV vind ook daardie jaar plaas. Dit strek oor twee termyne, wat ons as Kerk die geleentheid bied om op afgemete wyse met nuwe geloofsywer te werk, te streef en te dien.
Om moed te skep, vertel ook van hoop wat gekoester word, om moed aan die dag te lê, die moed van jou oortuiging te hê, moedig te stry of die moed van ’n leeu te hê. Die woord MOED is op die volgende wyse as ’n akroniem aangewend:
M – Missionale kerkwees
O – Onderskeiding
E – Eenvoudiger kerkwees
D – Dissipelvorming
Hierdie begrippe wat met die akroniem MOED verband hou, gaan elkeen in mindere of meerdere mate in die opwindende kursus wat dr Frikkie Labuschagne hieronder bekendstel, teregkom. My bede is dat ’n groot aantal gemeentes hierdie wonderlike geleentheid sal aangryp.
Dr Labuschagne:
Lidmate en gemeentes moet missionaal leef, dink en doen. Missionaal is ’n term wat oraloor in die Kerk gebruik word. Die woord dui aan dat ’n geloofsgemeenskap sy roeping as medewerker van die missio Dei verstaan en sy identiteit binne hierdie teologiese raamwerk vind. In die missionale beweging word die gemeente die hart en hande van Jesus Christus in die wêreld.
Die missio Dei word verder verstaan as die inisiatief, beweging en gestuurdheid van die Drie-enige God na die wêreld met die oog op die vestiging van sy koninkryk. Dit gaan dus altyd in die gemeente van Christus om Jesus en sý koninkryk en nie per se om die Kerk nie. Die menslike respons op die missio Dei kan beskryf word as ’n lewenswyse van geloof en liefde. Missionale geloofsgemeenskappe word geroep om die barmhartigheid, geregtigheid en vrede van die koninkryk van God in gemeenskappe te verteenwoordig.
Missionale kerkwees plaas elke gemeente dus onafwendbaar in ’n sterk relasionele band met ander. Die kuns van saam-wees word ’n realiteit waar gemeentes in die nood en pyn van die wêreld deel. Deur ons optrede, deur ons betrokkenheid by die materiële, geestelike en emosionele nood in die wêreld, moet die koms van God se koninkryk sigbaar gemaak word.
Hoe kan elke gemeente op elke plek hierdie verskil wees?
Gemeentes word genooi om deel te neem aan die IMG-aksie waar ons saam reis en mekaar help om aan die sending van God deel te neem! Missionale gemeentewees rig gemeentes om hierbinne en daarbuite die verskil te wees.
Die IMG-kursus (Inleiding tot Missionale Gemeentewees) is ’n 42-weke-reis en is so ontwikkel dat gemeentes elkeen binne haar onmiddellike omgewing op toepaslike wyse met inhoud besig is terwyl ons almal saam in pas bly. Daarom is die temas aan die hand van die 40-dae-beginsel uitgewerk. Hierdie beginsel het ten doel om die inhoud deur middel van herhaling en inoefening te laat grondvat. Die beginsel is dat as jy 40 opeenvolgende dae aan een ding bestee, dit daarna vasgelê sal wees in jou denkpatrone en gedrag.
Die volgende temas help ons om koers te hou:
- Die herontdekking van God se sending.
- Herontdekking van missionaliteit in ’n veranderende wêreld.
- Die herontdekking van die missionale aard van die gemeente.
- Die herontdekking van dissipelskap.
- Die herontdekking van missionaIe spiritualiteit.
- Die herontdekking van missionale luister in die gemeenskap.
My gebed vir elke gemeente van die Kerk is Paulus se gebed in Efesiërs 1: 18-19: Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Seën en sterkte op die IMG-reis!
*** Kontak dr Labuschagne vir meer inligting oor die inhoud van die IMG-kurus.
(Dr Frikkie Labuschagne is algemene sekretaris van die NHKA en direkteur van die SGB;
dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die HTK)