5 November 2022: Guy Fawkes-dag – ons hoop dit reën vannag sodat die vuurwerke stil is en die tuin nat word!
Ons was baie opgewonde om ’n paar ou vriende en nuwes die oggend om 08:00 by Melrosehuis te ontmoet! Ja, dis die huis waar die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken is, wat ’n einde gemaak het aan die Oorlog van 1899-1902. Die huis van die gesiene Heys-gesin.
Saterdag 5 November was ’n heerlike sonskynoggend na die vorige week se wonderlike reëns. Die plantdag is gereël deur die tydskrif Pretoria Historia onder leiding van Riana Labuschagne Mulder.
Een doel voor oë: Ons plant vir Melrosehuis ’n pragtige kruietuin in die ou roosbedding, waar daar nog ’n paar roosbome oor is. Dis noord van die tennisbane naby die prieel.
Enigiemand was welkom. Al wat jy moes doen, was om ’n sakkie kompos en/of ten minste ses kruieplantjies by te dra. Gratis toegang tot die pragtige Museum, en ’n tuinpiekniek was op die program. Tant Toeka, die buikspraakpop van Kierang-geselspoppe onder leiding van Klaas Lakei, was ook daar om ons aan te moedig. Tant Toeka is ’n ooggetuie uit die “goeie ou dae” en ’n Boerespioen by Melrosehuis.
Die Tshwane Metal Detectors Sweep, dig, repeat skattejagspan van Johann Papenhagen was ook daar met hul metaalverklikkers – oë vasgenael op die grond en ore fyn gespits vir piep-piep-geluide wat versteekte skatte van yster, lood, koper, brons of silwer en selfs goud verklap… ’n Interessante muntstuk van die Duitse Ryk (Weimar Republiek) uit 1923 (Deutsches Reich 1 Rentenpfennig) is onder andere gevind. Die Weimar Republiek was die demokratiese fase van die Duitse Ryk tussen 1918/19 en 1933. Die munt is gevind aan die voorkant van die huis, op die grasperk voor die deur. Alle voorwerpe is aan die huismuseum gegee.
Ek en Madeli (22) en Taneli (18) was daar, terwyl ouma Marie Botha, my skoonma, die fort tuis hou en my vrou, Carike Janeke de Bruin, by ’n graad R-opleidingsdag was. Ons het ons plantjies ter herinnering aan my ma, ouma Kotie, geplant. Sy is op 1 November 2020 oorlede en haar 80ste verjaardag sou die 5de gewees het. Sy was lief vir Melrosehuis en versot op plante en tuine.
Ons het toebroodjies en koffie uit ons mandjie en fles geniet, terwyl Riana koekies aan al die moeë werkers uitgedeel het na die plantery, tot ongeveer 10:00. Ons drie se piekniekplek was op die stoepie voor die historiese eetkamer en voor die asemrowende glas-in-lood-venster van die studeerkamer.
Almal was soos besige bye in die tuin. Ek en my dogters het soet basiliekruid (basil) en een Afrikanertjie (marigold) gebring, en gehelp om baie origanum (oregano), marjolein (marjoram) en tiemie (thyme) te plant. Natuurlik is daar ook baie ander soorte kruie geplant, soos salie, pietersielie, verskillende soorte basiliekruid, kruisement en laventel.
Dalk kan iemand mooi naambordjies vir die Melrosehuis-museum borg?
Museums en erfenisbewaring is nie deesdae meer ’n prioriteit nie. As ons ons mooi ou museums vir ons nageslag wil bewaar, sal ons as gemeenskap moet inspring en ophou hoop dat “iemand anders” daarna sal omsien. Erkenning word gegee aan Tshwane Metro aan wie die huis behoort, vir hul finansiële ondersteuning. Ook aan die personeel wat altyd ook die tweede myl saamloop.
Die idee van die kruietuin is toekomstige kruiewerkswinkels sodat ons daarmee vir Melrosehuis geld kan verdien vir klein onderhoudswerkies!
Skenkings (net nie geld of kontant nie) is baie welkom. Dink veral aan skoonmaakmiddels en nutsmanne wat kan kom help met onderhoudswerk of tuinwerk. Daar’s baie werk by so ’n groot herehuis met ’n reuse-erf! Selfs toergidse is nodig.
Kontak gerus vir Riana Mulder by rianamulder@mweb.co.za of Melissa Lindeque by melissal@tshwane.gov.za.
Onthou, daar is veilige, gratis parkeerplek met ’n sekuriteitspersoon binne die Museumterrein (ingang Scheidingstraat). As ’n mens op die terrein is, vergeet jy jy is eintlik in die middestad van Pretoria.
Die Victoriaanse huismuseum kan op weekdae besoek word. Melissa kan gekontak word vir besoeke en begeleide toere.
(Ds Carel Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)
