Prof Johan Koekemoer het Sondag 26 Januarie sy 60-jaar-ampsjubileum in Gemeente Selcourt gevier.

Johannes Hendrik Koekemoer is op 27 Augustus 1935 te Losberg in die distrik Potchefstroom gebore as die oudste van drie kinders en enigste seun. Sy ouers was boere en die plaaslewe was ’n lang ruk sy wêreld, veral waar hy sy laerskoolopleiding ook nog aan ’n skoolplaas ontvang het (Generaal Pienaar-skoolplaas). Sy hoërskoolopleiding het hy aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom deurloop, waar hy in 1953 matriek behaal het.

Hierna is hy na die Universiteit van Pretoria waar hy in 1956 die BA- en in 1959 die BD-graad voltooi het. In dié tydperk tree hy ook in die huwelik met Issie Symington, jongste dogter van wyle dr FC en mev Symington van Pretoria. Drie seuns is uit die huwelik gebore.

In 1963 vertrek die egpaar na Bethal, en in 1965 aanvaar hy ’n beroep na Zuurfontein. Die laaste gemeente wat hy in vaste hoedanigheid bearbei het, was Pretoria-Suid, van 1972 tot 1978. Hy promoveer in 1972 onder leiding van prof BJ Engelbrecht met ’n proefskrif getitel Die Christologie van die Nuwe Teologie – ’n interpretasieprobleem. In 1978 is hy aangestel as die eerste direkteur van Kital.

Sy eggenote, Issie, ’n bibliotekaris, ontwikkel in hierdie tyd die Kital-biblioteek en -indeks waarmee nie alleen al die belangrike materiaal van die Hervormde Kerk rekenaarmatig ontsluit word nie, maar ook ’n uitgebreide ekumeniese indeks vir Suid-Afrika tot stand kom.

Na 1978 het hy voortgegaan om as pastorale hulp in gemeentes te werk, in Boksburg, Philadelphia en Villieria. 

Op 1 Januarie 1989 is hy aangestel as professor en hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek aan die Fakulteit Teologie (Afd A), Universiteit van Pretoria. Hy lewer sy intreerede aan die begin van 1989 met die onderwerp Dogmatiek binne konfessionele verband.

Prof Koekemoer het groot invloed gehad op elke student wat die voorreg gehad het om deur hom onderrig en gevorm te word. Hy was ’n mentor vir sy studente en ’n geloofsvader vir lidmate. Die Kerk bedank hom vir 60 jaar se dienswerk:

Die Kommissie wil ook graag namens die Kerk aan u en u vrou dankie sê vir 60 jaar waarin u saam hard en met toewyding op verskillende terreine in die Kerk gewerk het. Dit was altyd duidelik dat u nie u eie belang op die voorgrond gestel het nie, maar dat u die Heer van die kerk deur u dienswerk wou dien. Die werk wat u in die Kerk gedoen het, word terdeë waardeer. Talle lidmate, kollegas en lede van die gemeenskap sal dit altyd onthou.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap