Emerituspredikant ds JJ (Johan) du Toit (84) is Maandagaand 7 Junie na ’n lang siekbed oorlede.

Ons innige simpatie gaan aan sy vrou, Rina, hul kinders en kleinkinders, en die res van hul familie.

Die egpaar het sedert April 2019 in Huis Hermon gewoon. Ds Du Toit was vir meer as twee jaar bedlêend – die fisiese agteruitgang was weens die neuropatie wat ongeveer tien jaar gelede gediagnoseer is. Hy was van 16 tot 27 Mei in Eugene Marais-hospitaal en sedert sy ontslag nie meer by sy positiewe nie. In die hospitaal is hy vir nierversaking behandel.

Hul dogter, René Engelbrecht, laat weet soos volg: “My ma was gisteraand [7 Junie] deurentyd langs sy bed. Ek het hulle Sondag besoek. Hy het my nog vir ’n oomblik herken. Hy en my ma was 58 jaar getroud. Ons is twee dogters en twee skoonseuns. Daar is vier kleinkinders – twee dogters en twee seuns. Daar is ook ’n agterkleindogter. My pa het geglo dat ’n mens jou medemens met dieselfde respek en deernis moet behandel as wat jy van jou medemens vra.”

Ds Du Toit is op 27 April 1963 georden, en het gedien in gemeentes Brakpan, Noordwestelike Pretoria, Randfontein, St Helena/Odendaalsrus, Johannesburg-Suid, Primrose-Oos en Germiston. Hy het in 1993 emeritaat aanvaar.

Die roudiens op Vrydag 18 Junie in Gemeente Oos-Moot is gelei deur dr Johan Bester.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap