Die afgelope maande is verskeie predikantsvroue en predikanteweduwees oorlede.

Mev CJ (Cecilia) Prins, weduwee van prof SJ (Fanie) Prins wat in 1997 oorlede is, is op 3 Junie in die ouderdom van 89 jaar oorlede. Teen die einde van haar lewe het sy in die versorgingseenheid van die Soetdorings-aftreeoord in Sinoville, Pretoria gewoon. Die teraardebestelling is op 9 Junie gedoen deur dr Thinus van Staden.

Mev TA (Tersia) du Toit (49), vrou van dr DJ (Deon) du Toit (beroepafwagtend), is Donderdag 1 Julie in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Tongaat (KZN) oorlede weens Covid-19. Die roudiens het Dinsdag 6 Julie aanlyn vanuit Gemeente Swartkop plaasgevind en is gelei deur dr Hein Delport.

Mev JE (Kotie) Viljoen (89), vrou van dr CJ (Christo) Viljoen (emeritus), is Donderdag 8 Julie oorlede. Mev Viljoen het in talle komitees van die NHSV gedien, asook in verskillende hoedanighede in die Hoofbestuur, waaronder vier jaar as voorsitter, van 1983 tot 1986. Vanaf 1970 was sy vir 12 jaar presiderende voorsitter van die drie Monumenttehuise. Einde 1986 is sy aangestel as direkteur van Bejaardesorg, en sy het die pos agt jaar lank beklee, tot met haar aftrede in 1994. Die roudiens het Vrydag 16 Julie vanuit Gemeente Bronkhorstspruit plaasgevind en is gelei deur ds Jan van Staden. Die teraardebestelling was Saterdag 17 Julie op die familie se Bosveldplaas.

Mev Tersia du Toit

Mev Ria Labuschagne

Mev Kotie Viljoen

Mev Theodora Boshoff

Mev MM (Ria) Labuschagne (87), vrou van ds F du C (Francois) Labuschagne, is Maandagaand 12 Julie oorlede. Sy en ds Francois het albei Covid-19 onder lede gehad. Hul dogter, Sonia, het by hulle aangesterk na ’n heupoperasie. Mev Labuschagne was jare lank onderwyseres, en het vir meer as 16 jaar tot haar aftrede by Hoërskool Tuine huishoudkunde onderrig. Twee van hul drie kinders, Isabel en Kobus, het hulle reeds ontval.

Mev TS (Theodora) Boshoff (69), vrou van emerituspredikant dr FJ (Frans) Boshoff van Chrissiesmeer, is Saterdagaand 24 Julie in die hospitaal oorlede weens Covid-19. Die private dankdiens is gelei deur dr Boshoff se swaer, ds JLJ (Johan) Smit (emeritus).

Mev JS (Susan) de Lange (91), weduwee van ds JC (Coen) de Lange wat in Desember 2013 oorlede is, is Saterdag 31 Julie oorlede na ’n beroerte. Sy het die afgelope twee jaar by haar kinders in Richardsbaai gewoon.

Kort voordat hierdie uitgawe van Die Hervormer afgehandel is, het ons verneem van nog twee sterftes. Mev FJ (Driekie) Viljoen (89), weduwee van ds JA (Koos) Viljoen wat in 2013 oorlede is, is Dinsdag 10 Augustus oorlede na ’n beroerte. Mev E (Elna) Breedt (75), eggenote van ds HJM (Hennie) Breedt (emeritus), wat in Boshof woonagtig was, is Donderdag 12 Augustus oorlede.

Ons innige simpatie gaan aan al die oorledenes se familie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap