Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir hierdie prediking kom uit 1 Johannes 2 verse 16 en 17: “Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”
Broers en susters, ek wil hê dat julle so ’n bietjie moet nadink oor wat al julle goeie voornemens vir elke nuwe jaar is. Ja, watter planne en idees het jy vir elke jaar? En terwyl julle dit alles so oordink, dink bietjie terug na die begin van laas jaar. Hoeveel van al jou goeie voornemens het gerealiseer, en hoeveel het nooit eers die einde van Januarie gesien nie? Ek is seker dat ons ook weet dat die meeste van ons Nuwejaarsvoornemens nooit eers bewaarheid word nie! Ja, ten spyte van al ons moeite en tyd wat ons aan sommige van daardie voornemens spandeer het, het dit steeds nie gerealiseer nie! Hoekom nie?
As ons na die Prediker kyk, dan sien ons dat dit nie net ons is nie, maar dat ook Bybelse mense sekere voornemens gehad het. Ja, ook hulle het soms voorgeneem om dinge te doen en nie te doen nie. Die Prediker is dus nie net iemand wat daarna gestreef het om wysheid en kennis te kry nie. Nee, ook hy het besef dat “baie wysheid stel hoë eise, wie kennis versamel, versamel smart” (vgl Pred 1:18). Ja, die Prediker het besef dat wysheid nie altyd “met die een hand ’n lang lewe en met die ander rykdom en eer” gee nie (vgl Spr 3:16), maar dat jy ook verdriet in die regter- en smart in die linkerhand kan hê. Daarom het hy hom voorgeneem om homself aan die plesier oor te gee, en om die lewe te geniet. Ja, hy wou plesier ter wille van plesier hê! Om te kan bepaal wat vir hom die res van sy lewe lank in hierdie wêreld sal kan bevredig, neem die Prediker hom voor om soos ’n dwaas te leef!
Gemeente, ons is presies soos die Prediker homself voorgeneem het om te wees: Ons tree ook soos dwase op! Die enigste verskil tussen ons en die Prediker is, dat hy dit gedoen het om te bewys dat dit nie kan nie … dat dit nie werk nie. Ons … vir ons het dit al ’n leefwyse geword! Ons besef nie dat ons dwaas optree nie! Om dinge soos genot, rykdom, en al daardie dergelike dinge na te jaag asof dit die hoogste goed in die lewe is, lei net tot teleurstelling! Het julle nog nooit gewonder wat sal gebeur as jy jouself aan drank oorgee nie?
Wel, dit is nie verniet dat die Prediker ’n leefwyse by die wynbottel beproef het nie, want hy wou seker maak dat dit nie moontlik is om terselfdertyd ’n alkoholis en ’n suksesvolle persoon te wees nie (vgl Spr 23:20-21). Wel, jy sal vir ’n wyle plesierig wees, terwyl die wêreld vir jou een helse groot vreugde is, maar die dag as jy nugter is, sal jy besef hoe dwaas jy eintlik was. Nou het jy nie net ’n verskriklike groot hoofpyn nie, maar boonop is jy ook bankrot gesuip! Dan begin jy maar weer van vooraf te drink omdat alles so hopeloos is (vgl Spr 31:7). Mettertyd is jy so afhanklik van jou drank net om menswaardig te kan wees. Ja, ’n alkoholis is dwaas, want hy drink nie net vir die plesier nie, maar om van sy probleme te vergeet! En dit is presies soos wat die mens is, al is jy nie werklik ’n alkoholis nie: Jy is so besig om die wêreld se genietinge en plesier op te suip, dat jy later ’n “alkoholis” vir die wêreldse dinge raak! Jy is verslaaf aan al die wêreldse genietinge; alles wat jy begeer, veroorloof jy jouself; en geen plesier ontsê jy jouself nie! Ja, jy het geglo dit is jou beloning vir al jou inspanning en harde werk!
Maar, geliefdes van ons Here Jesus, wat gaan gebeur die dag as jy die wêreldse bottel van genietinge en plesier leeggedrink het, en daar is nie nog bottels oor om van uit te drink nie? Ja, wat gaan jy maak as jy besig is om nugter te raak, en jy sien die gemors waarin jy is, helder en duidelik raak? Gaan jy dalk nugter skrik en besef: “In hierdie wêreld bevredig niks nie”? Tog, die dag as jy nugter word, die dag as jy al hierdie wêreldse dinge moet opweeg teen die goddelike dinge, dan is dit dalk te laat vir terugdraai! Dan is jy dalk al so afhanklik en verslaaf aan die wêreldse dinge dat omdraai nie meer moontlik is nie!
Ja, die Prediker wil vir ons vertel dat al hierdie aardse dinge waarna ons so streef, waarna ons so jaag, net ’n gejaag na wind is. Hierdie dinge kan nie die mens bevredig nie … dit is soos ’n bodemlose put! As hierdie dinge dan nie bevrediging kan bring nie, as hierdie dinge dan net ’n gejaag na wind is, waarna moet jy, as gelowige, dan soek?
Ag, broers en susters, ons almal het tog sekere voornemens oor hoe ons elke nuwe jaar wil aanpak. Party daarvan het dalk soos die Prediker te doen met ’n nuwe onderneming of besigheid, jou eie huis met ’n pragtige tuin, of dalk wil jy genoeg geld spaar om finansieel onafhanklik te kan wees. Dit maak egter nie saak watter voornemens jy gemaak het nie, ook nie hoe goed en eerlik hulle bedoel word nie, dit gaan in elk geval net tydelik wees. Nee, dit is nie pessimisties nie. Ons almal dink en glo mos dat die Prediker ’n groot pessimis was, maar dit is nie werklik so nie. Hy het immers alles beproef – natuurlik binne perke van sy godvresendheid – en besef dat nie een van daardie dinge wat hy al beproef het, stand kan hou nie. Dit is tydelik van aard! Hoe kan ’n mens dan daarop staatmaak!
Wat is vir ewig? Waarop kan jy dan staatmaak? Wel, dit is dalk ook waarom die skrywer van die eerste Johannesbrief vir ons die volgende gesê het: “En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe”. Ja, die enigste wat werklik kan standhou deur tyd en ewigheid, is God! Net Hy het werklik bewys dat die tyd nie iets aan sy heerlikheid en almag kan doen nie! Immers, selfs die skrywer van die boek Spreuke sê daar in hoofstuk 16 vers 1 dat “’n mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord kom van die Here af”. Daarmee word ons gewaarsku dat ons lewe op aarde werklik net soos die gras en die veldblom is: Vanoggend is dit nog vars as dit afgesny word, maar vanaand is dit verlep en gaan dit dood (vgl 1 Pet 1:24-25). Met ander woorde, jy gaan dalk nog van plan wees om iets aan jou jaarlikse Nuwejaarsvoornemens te doen, dan sterf jy. Wat dan van al jou wêreldse voornemens? Dit was net so tydelik soos wat jy is! Tog, daar is iets wat ewig is, en dit vind jy in jou totale gehoorsaamheid aan God. Wie doen wat God vra, kry die ewigheid! Ja, en saam met die ewigheid, kry jy dan die skatte van die hemelse koninkryk.
Beteken dit dan nou dat jy nie die wêreldse dinge mag geniet nie? Mag jy dan nou nie jou eie huis, jou eie motor of wat ook al besit nie? Mag jy dan nou nie geld spaar om daardie wonderlike vakansie te gaan hou nie? Natuurlik mag jy! Al daardie dinge en veel meer is jou, as gelowige, veroorloof! Die vraag is net: Wat maak jy daarmee? Sien jy dit as ’n gawe van God en is jy Hom daarvoor dankbaar, dan het dit ’n regmatige plek in jou lewe. Genot ter wille van genot is egter waardeloos en sinloos, maar genot as ’n gawe van God en as ’n byproduk van jou moeitevolle arbeid, is beslis aan te gryp. Ja, God wil hê dat die mens ook sy lewe op aarde moet geniet. Immers, die lewe is ’n geskenk van God. Maar beywer jou allereers vir die dinge van God se koninkryk, en dan sal jy beslis die wysheid en kennis kry om die wêreldse dinge as wêrelds en tydelik te sien. Ja, dan sal jy ook besef dat die wêreld se dinge jou nie bevredig nie, nee, alleen die goddelike dinge!
Kom, gemeente, laat ons elke nuwe jaar nugter tegemoet gaan. Ja, vir baie van ons sal hierdie jaar dalk net verdriet en ellende inhou, vir ander sal dit dalk gebalanseerd wees, en vir sommiges sal hierdie jaar dalk die mees geseënde jaar wees. Maar dit maak nie saak in watter groep jy val nie, maak net seker dat jy nugter bly oor alle hierdie dinge. Weet verseker dat hierdie dinge van die wêreld is, nie van ons hemelse Vader nie! Die enigste ding wat van die Vader is, is die ewige lewe. Laat dít dan jou voorneme wees vir volgende jaar: Deur alles wat jy sê, doen en dink, sê, doen en dink dit tot eer van ons hemelse Vader, en sodoende sal jy deel kry aan hierdie ewige lewe!
Amen