Die fokus vir die NHKA se sinodale begroting die afgelope dekade was op besparing.  Natuurlik is besparing nodig en belangrik om die las van sinodale offergawes op gemeentes so lig moontlik te maak. Maar besparing kan nie die hoofoogmerk van die sinodale begroting wees nie. Enige begroting moet daarop gerig word om die strategiese oogmerke van die betrokke organisasie te bereik.

Oudl Paul Vorster, voormalige lid van die Kommissie van die AKV en tans lid van die Raad van Finansies, het die probleem na al die gesprekke van die Raad van Finansies met die verskillende afdelings van die Sinodale Dienssentrum en kerklike instansies só verwoord:

  • Met die uitsondering van een van die begrotings (IT) is al die ander aangebied op kostebesparingsmodel.
  • Geen nuwe denke met betrekking tot ’n doel of einddoel is enigsins aangebied nie.
  • Die bogenoemde het ’n selfvernietigende uitkoms omdat alles geskoei word op ou bestaande praktyke wat óf verhoogde sinodale heffings tot gevolg sal hê óf dieselfde inperkende proses sal in die volgende en die daaropvolgende begroting toegepas word totdat daar nie meer ’n NHKA bestaan nie.

In die lig van die behoefte aan ’n duidelike fokus vir die Kerk se sinodale begroting, het die Raad van Finansies gevolglik op 6 en 7 April 2021 saam met die Kommissie van die AKV vergader.

Daar is konsensus dat gemeentes voorkeur moet geniet bo sinodale aktiwiteite. Die Kerk funksioneer in die eerste plek op plaaslike vlak in elke gemeente. Dit is waar gelowiges bymekaarkom om die goeie nuus van Jesus Christus se sterwe en opstanding te vier, waar ’n gemeenskap van gelowiges vorm aanneem, en waar hulle getuig en dien. 

Tog funksioneer geen gemeente onafhanklik nie; gemeentes vorm saam met ander gemeentes ringe, en saam gee dit gestalte aan die NHKA. Dit is die groot verskil tussen ’n hoofstroomkerk wat sinodaal funksioneer en landwyd verteenwoordig is, en die talle paddastoelkerke wat dikwels bloot om die charisma van ’n individu draai en saam met dié individu opbloei en dan weer kwyn. Maar om die verskillende gemeentes en ringe aan mekaar te bind, om te verseker dat gemeentelike aktiwiteite eenders en ordelik verloop, en om gemeentes met raad en infrastruktuur te ondersteun, vereis ’n sentrale sinodale struktuur. 

Hoewel hierdie sinodale struktuur noodwendig geld kos, stel dit die Kerk weer in staat om sekere dienste meer effektief en goedkoper aan gemeentes te lewer as wat elke gemeente op haar eie sou kon doen. Dit geld byvoorbeeld vir versekering en ’n pensioenfonds vir predikante. Daar is ook werk wat gemeentes baie moeilik op hul eie sou kon doen, en wat ons in ons plaaslike werksaamhede aan mekaar bind sodat lidmate wat verhuis maklik van een gemeente na ’n ander kan oorgaan: eenvormige opleiding van ons predikante; kategeseboeke wat saamgestel is om ons Kerk se verstaan van die Bybel, geloofsbelydenis en geskiedenis te reflekteer; ’n Diensboek met diensformuliere; kerklike publikasies; beroepsbriewe; bewyse van lidmaatskap; ander standaarddokumentasie; en vele meer.

Die sinodale begroting maak voorsiening vir al hierdie sinodale aktiwiteite. Met die daling in lidmaattal die afgelope dekades, het die AKV verskeie aktiwiteite ingekort om op die sinodale begroting te besnoei. Hierdie besnoeiings was so suksesvol dat die totale sinodale begroting van 2011-’12 gedaal het van R26 miljoen tot R19,8 miljoen vir 2021-’22 – sonder om die waardevermindering van die rand weens inflasie in berekening te bring! In die proses het die personeelkorps van die Sinodale Dienssentrum van 82 in 2012 afgeneem na 41 in 2021.

Maar die besnoeiing in die sinodale begroting moet nie uiteindelik die funksionering van die NHKA aan bande lê nie. Terwyl ’n mens altyd daarna streef om jou uitgawes te beperk, moet jy jou prioriteite bepaal en deur jou begroting befonds. Met ander woorde, die Kerk se langtermynvisie moet bepaal watter sinodale aktiwiteite noodsaaklik is om die dinamiese funksionering van gemeentes te verseker. Hiervoor móét die nodige fondse gevind word.

Na deeglike besinning het die Kommissie en die Raad van Finansies drie groepe aktiwiteite geïdentifiseer wat op sinodale vlak nodig is om gemeentes se plaaslike bediening te ondersteun.

Eerstens is daar aktiwiteite wat die opbou van die gemeenskap van gelowiges verseker.  Dit sluit die volgende in:

  • Onderlinge gemeentebande, ringsaktiwiteite, sinodale aktiwiteite.
  • Ekumeniese bande met ander kerke en kerklike organisasies.
  • Sinodale kommunikasie op talle maniere.
  • Ondersteuningsdienste (’n minimum gedeelde administrasie).

Die band tussen gemeentes maak ons volhoubaar oor geslagte heen en gee elke gemeente legitimiteit as deel van ’n erkende kerkverband. Danksy die feit dat ons ’n erkende kerkverband is, kry ons predikante toegang tot skole, hospitale en ander gemeenskapstrukture. Dit maak die deure oop dat ons plaaslik, nasionaal en internasionaal kan deel vorm van ekumeniese organisasies. Maar dit vra dat ons ’n dinamiese netwerk in stand moet hou, dat ons van dag tot dag ondersteuning aan gemeentes bied, kommunikeer, vergaderings hou, en inligting beskikbaar stel. Ja, die onderlinge band tussen gemeentes vereis ’n gedeelde administrasie en effektiewe kommunikasie – wat kerklike publikasies insluit.

Tweedens maak ons sinodale kerkverband dit moontlik om gemeentes se werksaamhede op plaaslike vlak te ondersteun. Kundige advies vanuit die Sinodale Dienssentrum en toerusting of fasilitering vanuit die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) help gemeentes om goeie besluite te neem en ondersteun hul –

  • selfstandigheid;
  • lewenskragtigheid;
  • dienswerk in die gemeenskap; en
  • groei.

Derdens verseker die Kerk sinodaal dat daar deurentyd goed toegeruste predikante en ampsdraers is wat leiding kan gee in gemeentes. Die belangrikste aspekte hiervan is die volgende:

  • Akademiese opleiding van goed toegeruste predikante.
  • Gepaste kerklike afronding van teologiestudente.
  • Voortgesette toerusting van predikante, en ’n welstandsprogram om lewenskrisisse te bowe te kom.
  • Toerusting van kerkraadslede en gemeenteleiers.

Teologiese opleiding speel ’n beslissende rol in die Kerk omdat predikante in soveel opsigte die leiding neem in ’n gemeente. Die opleiding en voortgesette toerusting van predikante bepaal in baie opsigte die karakter van ’n kerk. Terselfdertyd het ouderlinge en diakens in die geskiedenis van die NHKA ’n sleutelrol gespeel, en word gepaste toerusting vir hul dienswerk onder die huidige omstandighede weer al hoe belangriker. 

Hierdie drie hoofsake moet die prioriteite vir die Kerk se sinodale begroting wees. Selfs al streef ons daarna om so ver moontlik te bespaar op die sinodale begroting, moet ons die nodige fondse vind om hierdie werk te ondersteun. Terwyl ons altyd daarna streef om die beste gebruik van ons gedeelde sinodale begroting te maak sodat die lidmate, ampsdraers en predikante van die Kerk uitnemende diens kan lewer oral waar daar ’n gemeente van die NHKA leef.

Dr Wouter van Wyk

Sekretaris: Kommissie van die AKV

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link