Prof Ananda Geyser-Fouché van die Universiteit van Pretoria het ’n tweede PhD-graad verwerf, dié keer in Semitiese Tale. Die titel van haar proefskrif is The Ideological Necessity for the Transformation of the Lady Metaphors in Judaic Wisdom Literature.

In die proefskrif ontleed sy die metafoor van verpersoonlikte wysheid in die Judaïese wysheids-korpusse om te sien hoe hierdie “karakter” verander het en hoe hierdie metafoor in verskillende tekste vir verskillende kontekste gebruik is. Die metamorfoses van die vroulike metafoor in Judaïese wysheidstekste is bestudeer teen die sosio-historiese konteks(te) van elke teks. Die metafoor is bestudeer in die volgende tekste: Spreuke (beide die Masoretiese en Griekse (LXX) tekste), Qumrantekste, Ben Sira asook die Wysheid van Salomo. Wysheidstekste wat die Dame-metafoor gebruik, weerspieël verskillende beklemtonings. Die vrou (wysheid of dwaasheid) is met spesifieke kontekstuele en kulturele eienskappe uitgebeeld en het ’n kontekstuele standpunt verteenwoordig, gevul met kontekstuele waardes, oortuigings en ideologieë. Die transformasie van die Dame-metafore in verskillende Judaïese wysheidskorpusse kan verklaar word wanneer elke teks gelees word teen sy konteks, die beoogde gehoor en die waarskynlike ideologiese dryfkrag daaragter. Die ontwikkeling van die Dame-metafoor kan direk gekoppel word aan veranderde konteks(te) en ideologie/ë van tekste.

Die graad is op 17 September 2021 aan haar toegeken.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap