Tekste moet binne die verband waarin hulle geskryf is, gelees en verstaan word. Dit is ’n goue reël vir die korrekte verstaan van enige teks, en dit geld veral ook vir tekste uit die Bybel. Naas die literêre en leefwêreldverband, is die tipe literatuur van ’n teks ook wesenlik belangrik vir die verstaan van die totale teks en sy dele.
Profesieë word redelik algemeen beskou as voorspellings, en veral in die onseker tye wat ons tans beleef, probeer gelowiges dikwels wêreldgebeure verbind aan profetiese uitsprake in die Ou Testament. Dit gebeur meermale by charismatiese groepe wat tekste soos Esegiël 38 en 39 beskou as voorspellings van die huidige onrus en oorloë in die wêreld.
Profesieë was egter nie bedoel as voorspellings nie. ’n Profesie was die bekendmaking van God se wil aan sy volk onder bepaalde omstandighede. Die profeet het vir die volk gesê wat lê vir hulle voor as hulle die verkeerde pad waarop hulle was, sou bly volg. In ander gevalle bemoedig die profeet hulle met die versekering dat God in beheer is, en ook in die toekoms sal wees. Dit was dus nie in die eerste plek voorspellings nie.
Die beste “vervulling” van ’n profesie was wanneer die hoorders positief gereageer het op die Godswoord van die profeet. Jeremia 36: 2-3 maak hierdie saak baie duidelik waar die Here bereid is om af te sien van al die oordele wat Hy by monde van Jeremia aangekondig het, as die volk na Hom sou terugkeer.
Wanneer twee profete met uiteenlopende boodskappe teenoor mekaar te staan gekom het, kon die afloop van ’n profetiese woord wel aantoon wie ’n ware profeet is en wie nie. Dit is duidelik uit die vertelling oor die laaste oorlog waaraan Agab deelgeneem het (1 Kon 22: 1-38). Die woorde van ’n profeet móés egter in ooreenstemming wees met die aanvaarde verkondiging oor God. Iemand wat hom as ’n profeet of visioenêr voorgedoen het, se toekomsvoorspelling kon waar wees, maar as dit afgewyk het van die geloof in die lewende God, was daardie persoon ’n vals profeet en moes daar teen hom opgetree word. Deuteronomium 13: 1-5 bied hiervan ’n goeie voorbeeld.
Apokaliptiese literatuur in die Ou Testament (bv Dan 7-12 en Jes 24-27) is meestal moeilik verstaanbaar, en baie mense glo vas dat dit voorspellings oor die eindtyd is. Dit is veral in die huidige tydsgewrig ’n gewilde standpunt. Maar ook apokaliptiese literatuur is nie voorspellings nie. Van die belangrikste kenmerke van apokaliptiese literatuur is dat dit gelowiges wat in nood verkeer het, deur geheimtaal wou bemoedig om vas te staan in die geloof. Die boodskap dat God in beheer is, ook wanneer die bose magte van die wêreld skynbaar oorgeneem het, bly geldig vir alle tye. Daarom verloor apokaliptiese literatuur nie hul betekenis nie en hoef dit nie beskou te word as bloot van waarde vir êrens in ’n verre toekoms nie.
Profetiese uitsprake oor die eindtyd, soos in Esegiël 38-39 en Joël 3, het byna dieselfde funksie as apokaliptiese literatuur, naamlik om gelowiges te verseker dat God uiteindelik, tot voordeel van sy volk, finaal sal ingryp in ’n vyandige wêreld. Die feit dat ander volke soms uitgesluit word (Eseg 38: 1 – 39: 20; Joël 3) en soms ingesluit word (Jes 66: 18-23) by die heil van die eindtyd, toon duidelik dat sulke uitsprake nie gelees moet word as profetiese voorspellings nie. Gog is in elk geval ’n simboliese figuur in Esegiël 38 en 39.
Die standpunt dat profesieë toekomsvoorspellings is, is natuurlik nie nuut nie. Dit word al weerspieël in die volgorde van die Ou Testamentiese boeke in die Septuagint, waar al die historiese boeke eerste staan, gevolg deur die poëtiese boeke met die profeteboeke laaste. Hierdie volgorde word breedweg gevolg in ons Bybelvertalings. Dit verteenwoordig in werklikheid die skema “verlede-hede-toekoms”. Die implikasie daarvan is dat die profeteboeke, anders as in die Joodse kanon, op die toekoms betrekking het.
Hierdie siening se diepste wortels lê waarskynlik in die hantering van profete en profesieë in die Samuel- en Koningsboeke. In ’n tyd toe die Judeërs ná 586 vC sonder ’n koning en sonder die tempel was, en dus nie toegang tot God gehad het nie, het die skrywers van hierdie geskiedswerk die figuur van die profeet sterk na vore gehaal (vgl bv 2 Kon 5 waar die koning en priesters “uitgeskryf” word en die profeet “ingeskryf” word). Daarom is al die profetelegendes, onder andere oor Elia en Elisa, in hierdie boeke opgeneem. Die bedoeling was duidelik om die lesers te verseker dat profetewoorde betroubaar is. Wie die profetewoord gehoorsaam, word genees en het toegang tot God (2 Kon 5: 1-16).
Die siening dat profesieë en profeteboeke voorspellings is, kan ook teruggevoer word na die Nuwe Testament waar profetiese uitsprake as “vervul” aangedui word in vertellings oor Jesus van Nasaret. Dit kom veral in die Evangelie volgens Matteus voor. 15 keer word gesê dat profetewoorde of woorde uit die Skrif (dit wil sê, die Ou Testament) “vervul” is in die geboorte van en gebeure rondom Jesus van Nasaret. Dit kom ook dikwels in die Johannes-evangelie voor.
Nuwe Testamentiese skrywers se gebruik van die Ou Testament in hul verkondiging van die Jesus-saak verg ’n omvattende studie. Voorlopig kan die volgende opgemerk word: Uit navorsing is dit duidelik dat Nuwe Testamentiese skrywers basies op dieselfde manier as Joodse geleerdes van daardie tyd met die gesagvolle geskrifte omgegaan het. Veral gegewens uit die Qumran-grotte is verhelderend wanneer die verskillende wyses van uitleg en interpretasie ter sprake is.
Die tekste wat Nuwe Testamentiese skrywers as gesagvol beskou het, is hoofsaaklik die Griekse vertaling van die Ou Testament, naamlik die Septuagint, maar dan ook soms ander Griekse vertalings, Aramese parafrases en onafhanklike vertalings van die Hebreeuse teks. Daar was vir hulle ’n misterie, ’n sogenaamde dieper betekenis, in die woorde en vertellings van die Ou Testament. In Efesiërs 5: 31-33 word daar, naas die geheimenis wat vir die skrywer opgesluit sou lê in Genesis 2: 24, ook nog rekening gehou met die teks se gewone betekenis vir die huwelik.
Daar is ook van tipologie en allegorie gebruik gemaak om die gesag van die Ou Testament te laat meespreek in die Nuwe Testamentiese verkondiging (vgl bv Gal 4: 21-31; Heb 7). In hul gebruik van dié tekste buite die verband waarin dit voorkom, word daar telkens nuwe inhoud gegee aan woorde uit die Ou Testament. Dit was aanvaarde metodes van omgang met die gesagvolle geskrifte. Die aktuele interpretasie van die Ou Testament wat uitdrukking gevind het in die verkondiging, het dan sy eie gesag geskep. Hierdie nuwe verstaan van die ou geskrifte was dikwels die werk van wat genoem kan word Christelike profete, gelowiges wat geïnspireer was deur die Heilige Gees. In hierdie nuwe verstaan het die Christus-gebeure ’n allesoorheersende rol gespeel.
Maar terwyl die skrywers van die Nuwe Testament die vryheid gehad het om in hul tyd “dieper betekenisse” in die Ou Testamentiese tekste te ontdek, is dit ons nie beskore nie. Die probleem daarmee is dat die uitleg en verstaan van die teks in so ’n geval volledig uitgelewer is aan die willekeur van dié een wat die dieper betekenis sou raaksien. So ’n benadering tot die Ou Testament het ongelukkig teologiese konstrukte, soos die beloftevervullingskema, tot gevolg gehad – iets wat die Ou Testament se kragtige boodskap oor die verhouding tussen God en mens radikaal verskraal het. As die Ou Testament beloftes was wat in die Nuwe Testament vervul is, waarom sou ons dan nog die Ou Testament enigsins lees? ’n Belofte wat reeds vervul is, is irrelevant. Dit is hoegenaamd nie nodig om, naas die getuienis van die Nuwe Testament oor Jesus Christus, nog “dieper betekenisse” of geheime profesieë in die Ou Testament te ontdek nie. Die Ou Testament is, gelees binne die leefwêreld waarin hy ontstaan het, op sy eie ’n gesagvolle geskrif oor die verhouding tussen God en mens.
(Prof Andries Breytenbach, emeritus, is leraar in Gemeente Vanderkloof)
