Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Psalm 1 is ‘n Psalm wat baie duidelik die streep trek tussen die wat glo (die Psalm noem hulle die regverdiges), en hulle wat nie glo nie (die Psalm noem hulle die goddeloses).  Die wyse waarop Psalm 1 hierdie onderskeid maak, is tweeledig van aard.

Eerstens wys die psalm op die eienskappe van die gelowige en die ongelowiges.  Die ongelowige is iemand wat

  • soos kaf in die wind rondgewaai word (dus iemand wie se lewe geen orde het nie);
  • die raad van goddeloses volg (dus iemand wat staat maak op die woorde van mense en nie die woorde van God nie); en dus
  • mense in wie se lewe daar eintlik geen rigting is nie.

Die gelowige, daarteenoor, is iemand wat

  • sy vreugde vind in die Woord van God;
  • dit dag en nag oordink; en daarom
  • God en God se Woord alleen as maatstaf in die lewe gebruik, en nie die maatstaf of raad van mense nie.

Die gevolge dan, van so ‘n lewe, tipeer die Psalm soos volg:

Die goddelose

  • se pad lei tot ondergang; en
  • wanneer hulle eendag nie meer hier is nie, sal hulle verlore gaan.

Omdat hulle in hierdie lewe sonder God gelewe het, sal hulle in daardie lewe ook sonder God wees.

Die gelowige daarenteen

  • is soos ‘n boom wat by ‘n waterstroom wat altyd
  • vas bly staan,
  • op die regte tyd vrugte dra;
  • voorspoedig is in alles wat hy aanpak; en
  • sy blare verdroog nooit nie.

Die gelowige is dus iemand wat nooit sal doodgaan nie.  Dit is iemand wat, op grond van die genade in hierdie lewe saam met God geleef het, en daarom — na hierdie lewe — nie sonder God sal wees nie.

Uit hierdie hoek verstaan, broers en susters, is hierdie Psalm daarom in wese niks anders as die lewensverhaal van elke mens wat op aarde leef nie.

Sommige mense, al sê hulle dat hulle glo, lewe nie werklik in ‘n verhouding met die Here nie.  Dit wat hulle in die lewe rig en stuur is nie werklik God en sy Woord en sy Gees nie, maar eintlik niks anders as eie en ander menslike planne nie.

En al sou hulle — op die oog af — nog ‘n sukses van hierdie lewe maak, bestaan daar vir hulle nie werklik ‘n toekoms saam met God nie.  Nie in hierdie lewe of in die lewe hierna nie.  Soos hulle gelewe het, so sal hulle ook sterwe — sonder God.  Hulle is soos kaf wat in die wind rondgewaai word.  Daar is nie rigting of doel nie.

Ander mense gee hulle in hierdie lewe bewustelik en met oorgawe aan God oor.  Hulle verbind hulleself onlosmaaklik aan God deur Jesus Christus.  Hulle gryp die genade aan, en vertroetel die geloof.  Op ‘n kinderlike manier.

En daarom is hulle soos bome wat by water staan.  Hulle dra vrugte op die regte tyd, en hulle blare verdroog nooit nie.  Nie eers wanneer hulle hierdie gedeelte van die lewe verlaat nie.  Juis omdat hulle geglo het, en Jesus Christus se opstanding daarom ook hulle opstanding geword het.  En omdat Jesus Christus lewe, lewe hulle ook, vir altyd.

En is dit nie wonderlik, (eggenote), dat ons vandag van iemand kan afskeid neem van wie laasgenoemde alles waar is nie.  Wanneer ons aan N dink, kan ons oor so baie dinge dink — en ek wil nou daarby kom.  Maar ek glo, dit wat ons heel eerste van hom kan sê is dat hy iemand was wat sy Here deur en deur geken het.  Uit elke optrede was dit duidelik.  Hy het diep spore in die geskiedenis van hierdie gemeente getrap.  Vir jare was hy kassier en ouderling, en het hy (en jy) altyd hulp aangebied maak nie saak wat die behoeftes was nie.  Om nie eers te praat van die dinge wat jy en hy uit julle eie aangepak het en altyd met styl en sukses afgehandel het nie.

Ek kan ook nie nalaat (eggenote), om persoonlik my waardering uit te spreek vir dit wat N (en natuurlik jy) vir my en my gesin beteken het nie.  Vir amper tien jaar was N ons ouderling met toewyding en deernis.  My kinders, byvoorbeeld, het die eerste keer verstaan wat huisbesoek beteken nadat jy en N ons die eerste keer formeel besoek het.  En dan praat ek nie eers oor al die informele besoekies en saam kuier nie.  My kinders het ook gevra dat ek dankie sal sê vir al die besoeke, geskenkies en belangstelling wat jy en hy op so ‘n besondere manier in hulle getoon het.  Die feit dat eenvan my kinders daarop aangedring om jou te sien Donderdagoggend net na ons gehoor van jou groot verlies, sê iets van dit wat julle vir hulle, en vir baie ander beteken het.

Jy het gevra, (eggenote), dat ons vanoggend iets sal sê oor die mooi herinneringe wat N agtergelaat het.  Aan die een kant is dit baie maklik, maar aan die ander kant is dit bitter moeilik.  Juis omdat daar so baie is om iets oor te sê.

Ek wil begin by ‘n punt (eggenote), wat jy seker nie sal verwag nie.  Ek sal nooit vergeet wat my eerste gewaarwording was die eerste dag toe ek julle aan huis besoek het nie.  Julle was albei daar, saam met die kinders.  Wat my heel eerste opgeval het, was die foto’s in julle woonkamer.  Foto’s van jou en N en die kinders, op verskillende stadiums van julle as gesin se lewe.  Al daardie foto’s (eggenote), het vir my net een boodskap uitgestraal: hier is ‘n gelukkige gesin, hier is kinders wat hulle ouers waardeer, hier is ouers wat op hulle lewensmaats en kinders trots is.  Hier is mense wat leef met al die gawes wat God in hulle harte geplaas het.

En dit (eggenote), dit sal nooit weg wees nie.  Mous sal so altyd by jou, en by julle, wees.  Want die waardes wat hy uitgeleef is sal altyd by julle wees en bly.  Dit waarvoor hy gestaan het, die liefde wat hy vir julle gehad het, sal nooit uit julle harte kan wyk nie.  Want dit was opreg, dit was waar, dit was spesiaal.

Om soos N altyd nederig te gewees het, altyd te wou help, altyd te wou luister, altyd te wou deelneem aan die dinge wat saak maak, sê dat die Here in sy hart geleef het.

En dit kan nie eers sy dood uitwis nie.  En daarom sal hy altyd by julle wees, en by ons.  Veral waar ons juis die dinge uitleef waarin hy geglo het, en staan vir die dinge waarvoor hy gestaan het.

Kom ons eer sy lewe deur te lewe soos hy gelewe het.  Kom ons wees ook bome wat by die water staan, wat die regte vrugte op die regte tyd dra en wie se blare nooit sal verdroog nie.

Ons weet (eggenote en kinders), dat julle verlies groot is.  Wees verseker, ons verlies is ook groot.  Ook ons sal hom mis.  Maar is dit nie wonderlik dat ons, terwyl ons hom mis, ‘n groot stuk vreugde in ons lewens sal ervaar nie.  Vreugde omdat ons so iemand kon ken, dat ons almal ook deel van sy lewe kon wees.

Verlang gerus na N, (eggenote).  Jy mag maar, en jy moet.  Want hy was vir julle besonders.  En as jy verlang, onthou al die mooi dinge.  Die humor, die omgee, die onvoorwaardelike liefde wat hy vir jou en die kinders gehad het.

God sal julle troos.  God sal weer rigting gee.  Want julle is tog aan Hom verbind.  En Psalm 1 sê mos dit gaan goed met hulle wat hulle aan God verbind het.  Ons bid vir julle.  En ons wil julle graag vashou en elke dag weer van ons liefde verseker.

Mag julle God se vertroostende teenwoordigheid elke oomblik ervaar.  En dankie dat ons ook vir julle lief kan wees.  Julle maak dit vir ons so ongelooflik maklik.  Want as ons so leef, leef ons soos N geleef het.

Hy is nie weg nie.  Want as ons so leef, sal ons sy voetspore orals sien.  Mag God julle vashou en julle troos. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap