Liewe ……….
Psalm 1 is nie geskryf vir die bevestiging van huwelike nie. Maar as ons hierdie Psalm fyn lees, dan kom ’n mens baie gou agter dat hy eintlik elke terrein van ons menselewens dek. Dit is hoekom baie geleerdes sê dat Psalm 1 eintlik die hoofopskrif is vir al die Psalms in die Bybel!
Die eerste woorde wat my elke keer tref as ek hierdie Psalm lees is die woorde van vers 1: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie maar wat in die Woord van die Here sy vreugde vind”. Dit gaan goed…. Die ou vertaling sê: “Welgeluksalig is die mens…”; ander vertalings sê: “Baie gelukkig is dié een wat in die Woord van God sy vreugde vind”.
Dit is nogal baie interessant om te luister na mense se definisies van GELUK en GOED GAAN. Die meeste mense is geneig om ‘geluk’ en ‘goed gaan’ gelyk te stel aan dinge soos rykdom, skoonheid, kinders, romanse, bewondering en vorme van sekuriteit. Baie mense sê dat as hierdie dinge nie deel is van ’n mens se lewe nie, kan daar nie sprake wees van geluk nie!
Geliefdes, ek sal nie ontken dat elkeen van hierdie dinge ’n rol speel in ons mens-wees-lewe nie. Die probleem kom egter wanneer hierdie dinge die belangrikste plek begin inneem in ons lewens, wanneer hierdie dinge die hoogste voorrang begin geniet – kom ons sê dit reguit vir mekaar: wanneer hierdie dinge vir ons belangriker word as God se wil vir ons lewens! Om hierdie waarheid te verduidelik gebruik die Psalmdigter ’n pragtige beeld: Vers 3 [Boom by waterstrome].
Geliefdes, sien en hoor u raak wat wil die Psalmdigter vir ons uitwys? Die Psalmdigter wil met hierdie beeld vir ons daarop wys dat ware geluk nie gevind word in uitspattigheid, wêreldse plesier en aardse besittings nie; ook nie tussen mense wat maak wat hulle wil, wanneer hulle wil en solank hulle wil nie. Nee, ware geluk ONTSTAAN wanneer die Woord van die Here gelees word, oordink word, nagevolg word. Dit is so belangrik dat ons dit almal weer ’n slag hoor: Ware geluk is iets wat gebeur., wat gebore word, om dit so te stel. Die Psalmdigter sê dat ’n gewone aardse boom ’n besondere AARD het, met ander woorde: Bome maak almal van dieselfde wyse gebruik om voeding uit die grond te kry – hulle AARD is om water uit die grond op te neem om te kan groei! Die tweede belangrike ding van ’n boom is dat God bome met ’n DOEL en ’n WAARDE geskep het. Bome se doel en waarde lê daarin dat hulle VRUGTE dra en KOELTE gee.
Nou sê die Psalmdigter in Psalm 1: Net só wil God hê dat dit die mens se AARD sal wees om God se Woord en sy wil op te neem – net soos bome, water opneem, sodat die mens aan God se DOEL kan beantwoord, sodat ons WAARDE en BETEKENIS as mens tot uiting kan kom: Net soos vrugte dra en skadu gee die doel en waarde van ’n boom is, só lei God se Woord elke mens om deur gehoorsaamheid aan die Here vir ons medemens koelte te gee en te begelei op dié weë wat vir die Here goed en aanneemlik is!
Hoor u dit? Die Psalmdigter sê dat ware geluk die resultaat is van ’n gehoorsaamheidslewe! Ware geluk is iets wat ontstaan, wat gebore word, wat in stand gehou word in soverre ons as mense doen wat God wil hê dat mense sal doen – en dit is: om sy Woord en wil in te drink, elke dag, elke oomblik, anders is geluk nie moontlik nie!
Daar is nog een ding wat ons ook moet raaksien in hierdie Psalm, en dit is: Alle mense is blootgestel aan goddeloosheid, aan lewensomstandighede en mense wat net plesier en bandeloosheid najaag en daarin vreugde en sogenaamde geluk vind!
Hier staan nie dat mense wat in die Woord van die Here hulle vreugde vind, nie deur hierdie mense en tye en omstandighede gepla en versoek sal word nie. Nee, ons leef saam met dit en dit is deel van menswees! Die verskil kom by die belofte van die Here: Die Here sê vir ons in sy Woord dat:
- Hy met elkeen sal wees wat getrou bly aan sy wil;
- Hy mense wat van Hom afhanklik is en afhanklik bly, voorspoedig sal maak en sal bystaan solank hulle op aarde leef en werk. Dit beteken: Die Here sal diegene wat sy wil naleef, beskerm, bewaar en naby wees deur alles heen: goeie en slegte tye, sodat hulle aan hulle doel kan beantwoord om tot sy eer te leef en vir hulle medemens “koelte” te gee en “geestelike voedsel”; en
- Hy vir elkeen wat na Hom vra en aan Hom gehoorsaam bly, ’n plek voorberei saam met Hom.
Is dit nie wonderlike nuus nie? Is dit nie juis die tipe boodskap wat ons in vandag se tye opnuut moet hoor nie?
Die Here God versorg in liefde en genade elke mens wat in afhanklikheid en gehoorsaamheid voor Hom buig. God stel mense in staat om hulle doel te bereik, naamlik, om uit die bron van liefde te leef en te laat leef! Dit is ware geluk: om dit wat ons van God ontvang, vir mekaar deur te gee!
Geliefdes, ons almal se gebed vir julle twee is
- dat julle soos hierdie boom by waterstrome sal wees;
- wat vrugte dra en koelte gee;
- wat voorspoedig sal wees in wat julle aanpak; en
- wat ware geluk ervaar en ook deurgee aan mekaar en almal wat saam met julle lewe!
Amen