Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Nederigheid is seker die moeilikste eienskap om te hê. Veral in die soort wêreld waarin ons leef. Ons wêreld is gesteld op prestasie. Ons is altyd besig om te vergelyk. Solank ander net meer van my dink as ander, is alles nog reg. Solank ek net beter vaar as ander, is ek darem nie te sleg nie. En hoe lekker is dit nie as ander jou prys en jou vertel hoe goed en gaaf, flink en fyn jy nou eintlik is nie. En gou, baie gou, dink ons dat ons beter as ander is. Ek besit meer, het ‘n beter werk, is belangriker as ander. En voor ons weet, maak nederigheid plek vir arrogansie en hoogmoedigheid. Met al die gevolge wat dit inhou vir opregte en eerlike verhoudings met ander mense.
God, broers en susters, spreek in sy Woord ‘n harde woord oor hoogmoed. Om die waarheid te sê, God verafsku dit. Ek noem u net ‘n paar voorbeelde: ‘Ek haat hoogmoed en hovaardigheid’ (Spr 8:13); ‘die Here het ‘n afsku aan ‘n verwaande mens (Spr 16:5); ‘moet niks uit selfsug of eersug doen nie’ (Fil 2:3); ‘julle moet nie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie’ (1 Sam 2:3); ‘op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val’ (Spr 16:18); en in Spreuke 15:25 sê God: ‘Die Here breek die hoogmoedige se huis af’.
Ek meen hierdie tekste sê dit duidelik, al klink dit na hoe ‘n harde woord: God haat hoogmoedigheid, Hy haat arrogansie, of dan hovaardigheid, soos Salomo dit in die Spreukeboek noem. Hoekom, broers en susters, spreek God so ‘n harde woord oor hierdie saak? Die antwoord is eenvoudig: ons het niks, kan niks doen of het eintlik niks gedoen waarop ons trots kan wees nie. En nog minder arrogant of hoogmoedig. En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.
Het ‘n skilder se doek al ooit ‘n prys behaal? Nee, die prys gaan aan die skilder. Het ‘n skalpel wat gebruik is om ‘n baie moeilike hartoperasie mee uit te voer, al ooit van trots geswel nadat alles suksesvol afgeloop het? Nee, die dokter wat ‘n gawe uit God se hand ontvang het, word gelukgewens. Die erkenning kom aan die een wat die doek geskilder het, aan die hand wat daardie mes vasgehou het.
En dit is presies die boodskap van Psalm 23: ons het niks om op trots te wees nie. Ons het geen rede om arrogant of hoogmoedig te wees nie. Wat ons wel het, is rede om dankbaar te wees. Dankbaar te wees vir rus en vrede, redding en seëninge, en die vooruitsig van ‘n ewige lewe. En ons het hoegenaamd niks gedoen om dit te verdien nie. Wie het al die werk gedoen? God, en niemand anders nie. Dit loop soos ‘n goue draad deur hierdie Psalm:
‘Hy laat my …’
‘Hy bring my …’
‘Hy gee my …’
’U is by my …’
‘In u hande is ek veilig …’
‘U laat my by ‘n feesmaal aansit …’
‘U ontvang my soos ‘n eregas …’
Ja, ons is miskien die skilderdoek, die verf, die skalpel, die instrumente wat God in sy koninkryk gebruik, maar die applous kan nooit ons s’n wees nie. En net om seker te maak dat ons verstaan wat hy bedoel, sê Dawid vir ons in hierdie Psalm aan wie die eer toekom: ‘ Hy lei my op die regte paaie, tot eer van sy Naam’. Nie tot ons eer nie. Tot syne.
God weet maar te goed, broers en susters, dat eer baie gevaarlik vir die sondaarmens is. Dit laat ons koppe swel en ons breine krimp, en dit is nie te lank nie of ons dink dat wat ons is en wat ons bereik het net ons werk is. Ons dink ons kan alles self doen, ons kan self oorleef, ons is tot alles self in staat. En dan vergeet ons daarmee saam en net so vinnig dat ons van stof gemaak is en eintlik van sonde en van onsself gered is.
En dan begin ons so maklik soos die Fariseër in die gelykenis te bid: O God, ek dank u dat ek nie soos ander mense is nie. Dankie dat ek beter as ander is, dat ek nie ‘n dief of ‘n bedrieër of ‘n egbreker is nie. Dankie Here, dat die wêreld darem ‘n paar mense soos ek oor het.
Dankie Here, dat ek beter as die bedelaar op die hoek is, dankie dat ek nie soos my buurman aan drank verslaaf is nie, dankie dat ek nie daardie skandes met my hoef saam te dra nie, dankie dat ek in die oë van ander ‘n goeie mens is.
Maar dan vergeet ons dat ons almal eintlik bedelaars voor God is, dat ons in wese ook maar bakhand voor Hom staan, van sy welsyn intens afhanklik is, dat ons dalk nie aan drank verslaaf is nie, maar miskien tog aan ‘n klomp ander dinge verslaaf is waarvan net God ons kan verlos, en dat dit net genade en God se Gees se leiding is dat dit nog goed met my gaan. Dat ek krag het om te werk omdat God dit gee, en gesond is, omdat God die een is wat sorg. Vergeet ons dat ons almal sondaars is, dat niemand eintlik iets verdien nie, dat niemand eintlik goed is nie. En dat almal voor God gelyk is.
Daarom moet ons eerder soos die tollenaar bid: ‘O God, wees my sondaar, genadig’. Want dan sal God van ons sê: ‘Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word’.
En hieroor spreek die Bybel ‘n interessante woord: met dieselfde intensie wat God hoogmoedigheid en arrogansie haat, het hy die nederige lief. En aan die nederiges deel Hy sy genade uit: ‘God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade, sê 1 Petrus 5:5. Al is die Here verhoog, Hy gee om vir die nederige, sê Psalm 138:6. En in Jesaja 57:15 sê God self: ‘Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is’. Verder sê Hy ook: ‘Ek slaan ag op die mens in nood, oor die een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my Woord’ (Jesaja 66:2).
Ook gee God aan die nederig groot en waardevolle gawes: Hy gee hulle eer (Spr 15:33), wysheid (Spr 11:2) en rigting (Ps 25:9). En die belangrikste van alles: Hy gee hulle genade – aan die nederiges gee Hy genade, sê 1 Petrus 5:5.
Wat beteken dit prakties om nederig te wees? Die Woord gee hieroor aan ons pragtige riglyne. Kom ek noem so paar.
Evalueer jouself eerlik: Nederigheid het niks te make met ‘n lae selfbeeld nie. Om nederig te wees beteken nie dat jy dink jy het niks te bied nie. Dit beteken bloot dat jy presies weet wat jy te bied het, en niks meer as dit nie. Hoor hoe stel Romeine 12:3 hierdie beginsel: ‘Moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof (en gawes) wat God aan elkeen toebedeel het’
Moenie sukses kop toe vat nie: Die Bybel waarsku ons: pasop dat jou goud en silwer al hoe meer word, en dat jy dan so hoogmoedig word dat jy van jou God begin vergeet nie (Deut 8:13-14). So maklik, broers en susters, neem voorspoed en besittings die plek van God in ons lewens. Sukses skep by ons die indruk dat ons alles kan regkry, en reggekry het in ons lewens. En dat ons God nie daarvoor nodig het nie. Nederigheid laat ons besef dat alles wat ons het, en bereik het, gawes uit die hand van God is.
Vereer ander mense vir wie en wat hulle is: In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Fil 2:3). Gee erkenning aan ander, God wil hulle ook gebruik. Waak teen jaloesie, waak teen nydigheid. Waak teen die houding: ‘ek wil en moet beter as ander wees’.
Moet nooit jouself prys nie: Spreuke 27:2 sê hieroor genoeg: ‘Laat dit aan ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie’.
Moenie jou eie sukses vooruit loop nie: In 1 Konings 20:11 maak koning Agab van Israel die volgende opmerking: ‘ Hy wat klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat reeds die oorwinning behaal het nie’. Met ander woorde, pak die lewe met nederigheid aan.
Lewe aan die voet van die kruis: Paulus het gesê: ‘ Maar wat my betref, mag God my verhoed dat ek dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van onse Here Jesus Christus (Gal 6:14). Wat bedoel Paulus hiermee? Kom ek stel dit so: Om te voel ons is belangrik hoef ons nie te loop en vertel wie en wat ons is, wie ons ken en wat ons al vermag het nie.
Nee. Gaan staan maar net by die voet van die kruis, en dink hieroor na: Hy wat die maan en die sterre geskep het, Hy wat die Almagtige is, Hy wat die Heilige is, het gekies om vir ons te sterf eerder as om sonder ons te lewe. So belangrik is ons vir God. As ons wil roem, kom ons roem daaroor.
Kom ons roem oor ‘n God wat ons sy kinders gemaak het, wat vir ons alles gegee het, wat ons oneindig lief het. Kom ons spog daaroor. En ons kan. Want ons het rede.
Amen