Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Niemand van ons weet regtig hoe dit eendag in die hemel sal wees of hoe die hemel lyk nie. Dieselfde geld vir die beelde (soos bv Openbaring 21) wat in die Bybel gebruik word om maar eintlik net iets van die hemel te probeer sê. Wat ons wel weet is dat dit nuut gaan wees, anders. So anders as wat God anders as ons is. Ek dink nie ons kan onsself eers indink hoe dit daar gaan wees nie. Wanneer ons sê iets was hemels, is dit nie eers goed genoeg nie. Dit gaan meer as dit wees, beter. Dit gaan totaal anders wees as wat ons nou het.

Omdat dit anders gaan wees as hierdie wêreld, dink ek ons sou ten minste kon sê dat persoonlike ego’s en magspel nie daar sal wees nie. Skuld, skandale en seerkry sal ook nie in die hemel toegelaat word nie. By wyse van spreke sal almal by die hemel se hek ondersoek word: siekte, dood, depressie, haat, nyd, jaloesie, alles sal by die hek agtergelaat moet word. Om die waarheid te sê, alles wat ons op aarde sien, wat ons op aarde is, en wat deel van die aarde is, sal ons beslis nie daar sien nie.

Wat hier op aarde maar net beloftes is, sal daar werklikhede wees. Ons sal God sien. Nie deur die oë van die Bybelskrywers, of soos ons God in ‘n sonsondergang sien nie. Ons sal ook nie God se woorde of werke sien nie. Ons sal God self sien. Hy sal nie die gasheer van die fees wees nie, maar die fees self. Dit gaan anders wees. So anders, wil ek weer sê, dat ons onsself dit nie kan indink nie.

Maar daar is ‘n probleem: om deel van hierdie fees te word, moet ‘n mens ‘n regverdige mens wees. Nie ordentlik nie, nie ‘n kerkganger nie, nie ‘n Bybelleser nie, nie goed nie, nie oulik nie. Jy moet regverdig wees. Jy moet doen wat reg is in die oë van die Here.

En hier is die probleem. Die meeste van ons doen so af en toe wat reg is in die oë van die Here. ‘n Paar van ons doen meestal wat reg is. Maar wie van ons doen altyd wat reg is? Volgens Paulus, niemand nie. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, skryf hy in Romeine 3:10. Daar is nie een wat goed doen nie, nie een nie, sê hy in Romeine 3:12.

Daarteenoor is God regverdig. Sterker gesê: God is gelyk aan regverdigheid. Die Bybel is vol uitsprake hieroor: deur die regverdige beskikking van God ontvang ons die geloof (2 Pet 1:1); God is die regverdige regter (Ps 7:11); God is regverdig, Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel (Ps 11:7); wat die Here doen is reg (Ps 71:19); net God wat regverdig is kan red (Jes 45:21). God se verordeninge is regverdig (Rom 1:32); sy oordeel is regverdig (Rom 2:5); sy eise is regverdig (Rom 8:4); sy dade is regverdig (Dan 9:14).

God, met ander woorde, is nooit verkeerd nie. Hy het nog nooit ‘n verkeerde besluit geneem nie, ‘n verkeerde houding ingeneem nie, die verkeerde rigting ingeslaan nie, die verkeerde ding gesê of ‘n verkeerde ding gedoen nie. Hy is nooit te vroeg of te laat nie, praat nie te hard of te sag met ons nie, en werk nooit te vinnig of te stadig met ons nie. Hy was nog altyd reg, en sal nog altyd reg wees. Want Hy is regverdig. En ons is nie.

Die probleem is dus duidelik: Hoe kan God, wat regverdig is, altyd reg is en reg optree, ons toelaat by Hom eendag as ons nie regverdig is nie? Luister wat sê Jesaja 28:17: Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets. En, Paulus sê in Romeine 3:19: Niemand sal hom dus kan verweer nie, die hele wêreld is strafwaardig voor God.

Wat staan ons te doen? Wat kan ons maak? U ken die antwoord: ons moet ons skuld voor God opreg bely. Dit moet ‘n noodkreet wees. Here, vergewe my dat ek nie is soos u wil hê ek moet wees nie. Here, vergewe my dat ek so min doen soos ek weet u wil hê ek moet doen. Here, vergewe my dat ek so dikwels nalaat om die regte ding te doen, om nie eers te praat van dit wat ek verkeerd doen nie.

En, soos Psalm 32 dit so mooi sê, God sal ons noodkreet hoor. En vir ons ‘n plek aan sy feestafel gee. Enkel en alleen omdat Jesus op ‘n keer ook ‘n noodkreet laat hoor het: Here, straf my vir elkeen se sondes. Laat almal se sondes op my kom. En God het dit gedoen. En ons so die lewe gegee. Omdat Jesus die regte pad, soos Psalm 23:3 sê, geloop het, kan ons nou ook op daardie pad stap. Wat eenvoudig beteken dat ons nie moet toelaat dat ons elke dag gebuk gaan onder ons skuldlas nie. Baie mense leef so, broers en susters. Baie mense. Wat meer is, ook God se mense.

As sonde sigbaar was, sou ons dit kon sien. As laste in ons hart sigbaar was, sou mense sien hoeveel goed ons met ons saamsleep. As skuldgevoelens oor dinge in die verlede sigbaar was, sou mense sien hoe baie ander sakke en sakke se swaar hulle met hulle saamdra.

Terwyl ons nie besef dat hierdie dinge, in die eerste plek, ons terughou nie, en, in die tweede plek, eintlik iets sê van wat ons dink van God se regverdigheid in Jesus Christus. Besef ons dit, broers en susters? Jesus sterf vir almal se sondes aan die kruis. Vergifnis is beskikbaar, regverdigheid is moontlik. Maar ons weier om daarvan gebruik te maak. Tragies. Ons weier dat God ons regverdig verklaar. Ons verkies liewer om ons skuld en skuldgevoelens saam te sleep.

Psalm 23:3 sê egter dat God ons op die regte pad wil laat loop. Sonder skuld, sonder laste. Want dan alleen het ons die krag om tot sy eer te lewe. Hy wil ons verlos, sodat ons vir Hom kan lewe. Hy wil ons nuut maak, sodat ons ander kan nuut maak. Hy wil hê dat ons weer en weer moet hoor: jy is regverdig in Christus, jy is anders, jy is nuut.

En dan soos nuwe mense moet lewe. Tot eer van sy Naam. Kan dit, broers en susters, so moeilik wees? 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap