Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Geloof, hoe daar geglo word, hoekom geglo word, en hoe geloof uitgeleef word, verskil soms radikaal van een mens tot ‘n ander.
So kry ons mense, broers en susters, wat eintlik maar net glo ter wille van die nou, van die hede. Dit is mense wat reken dat God daar is om vir sy kinders goed te wees, hulle te vergewe, te versorg, te bewaar en te beskerm teen alles wat negatief in die lewe kan wees, teen teëspoed, sal ‘n mens kortliks kan sê.
Hierdie mense is mense wat glo dat hulle geloof hulle teen enige teenspoed hier en nou sal beskerm, dat God daarvoor sal sorg. Hulle moet net reg lewe, want as hulle reg lewe, sal God dit raaksien en hulle voorspoedig maak.
Dan is daar weer ander gelowiges, broers en susters, wat nie glo ter wille van ‘n teenspoedlose hede nie, maar glo met die oog op die toekoms. Hulle leef as ‘ ware net om een rede: om eendag in die hemel te kom. Daarom is die lewe vir hulle ‘n stryd om uit te vind wat al die moets en die moenies is, wat mag en nie mag nie, wat die regte ding is om te doen, want alles wat gedoen of nagelaat word gaan die voorspoed van so iemand se toekoms bepaal. Of so iemand die hemel gaan haal of nie.
Dan, broers en susters, is daar gelowiges wat met oortuiging en vrymoedigheid Psalm 25 sal kan opsê, juis omdat die inhoud van die Psalm presies die aard van hulle geloof omskryf. Geloof wat nie maar net geloof ter wille van die hier en die nou is nie, ook nie geloof wat nog maar net geloof is met die hoop op ‘n ewige lewe nie, maar geloof wat te make het met ‘n diep en innige verhouding met die Here. Geloof, broers en susters, wat so iemand se hele lewe raak, beïnvloed, stuur, rig en vorm. In alle omstandighede.
So iemand, broers en susters, was oom ****. Dit is immers hoe ek hom leer ken en geken het. As iemand wie se verhouding met die Here vir hom alles was, en juis daarom ook sy hele lewe, en uitkyk op die lewe, so bepaal het dat dit eintlik met hom altyd goed gegaan het, ja self aan die einde van sy lewe toe hy baie siek was en net sieker en sieker geword het.
Juis daarom, broers en susters, is dit nie vreemd dat Psalm 25 sy lieflingspsalm was nie. Want kyk wat sê die Psalm oor dit wat die inhoud van ‘n verhouding met God kan en moet wees.
In die eerste plek, sê Psalm 25, het ware geloof te make met vertroue in God, met die verwagting dat God altyd vir my daar sal wees, en wel op so ‘n wyse dat alles vir my altyd ten goede sal meewerk. Waar iemand wat sy verwagting in die Here stel, werklik glo en weet, en ervaar, dat God hom nie sal beskaam nie. Ja, selfs daar waar vir gesondheid gevra en gebid word, God dit nie gee nie, en dan aanvaar word dat dit goed so is, want God wil dit so. Dit, broers en susters, is geloof wat God werklik met die hele lewe vertrou.
In die tweede plek, sê Psalm 25, het opregte geloof te make met die versugting om gehoorsaam voor God te lewe. Daarom die voortdurende gebed, die voortdurende versugting: Here, maak my U wil bekend, leer my U paaie, leer my U waarheid, onderrig my daarin, leer my watter pad om te kies.
Iemand wat so bid, broers en susters, iemand wat so voor die Here smeek, soek nie sy eie voordeel nie. Iemand wat so daarna smag om die pad van die Here te stap, stap dit omdat hy nie anders kan nie. Omdat God sy lewe so aangeraak en so met sin gevul het, dat gehoorsaamheid eintlik die enigste moontlikheid is. Ook dit, broers en susters, oordeel ek, was so deel van oom **** se lewe.
Derdens, broers en susters, impliseer Psalm 25 dat iemand wat die Here werklik ken, wat die Here met sy lewe vertrou en daarna smag om deur die Here onderrig te word oor die waarheid en die regte pad wat bewandel moet word, nie anders kan as om ook sy eie sonde raak te sien nie. Raak te sien waar al die gebreke en tekorte is nie. Maar ook te weet: by God is daar vergifnis, altyd vergifnis.
En miskien, broers en susters, was dit die mees tipiese van **** se lewe gewees. Met verbasende eerlikheid was hy altyd bereid om oor sy eie tekorte te praat, dit wat volgens hom nie in plek was nie. So dikwels het hy na homself in my teenwoordigheid as die `ou groot sondaar’ verwys, maar ‘n sondaar met ‘n `grootbaas’ wat verstaan en vergewe.
Dit, broers en susters, is geloof, kinderlike geloof. Wat meer is, dit is geloof wat nie ruimte maak vir enige teëspoed nie Want, sê Psalm 25, wanneer iemand:
- sy vertroue in die Here stel, sy verwagting, sal hy nie beskaam word nie;
- bid om die leiding en wil van die Here, dan sal die Here dit aan hom bekend maak; en
- sy sondes voor God bely, dan dink God nie meer aan die oortredings van my jeug nie, wat nog te sê my oortredings van gister en eergister.
So iemand, sê Psalm 25, beleef daarom voorspoed, maak nie saak wat sy omstandighede is nie.
Wat meer is, so iemand se verwagting word nie beskaam nie, ontvang die liefde en trou van God, en juis aan hulle maak God sy verbond bekend.
Sy verbond wat die hoogtepunt in Jesus Christus bereik het, die verlossing aan die kruis. Wat net een ding beteken en kan beteken: dat ook hy nou by die Here is, dat ook hy nou, soos hy altyd gesê het, by die `Grootbaas’ is.
Tannie ****, die Psalm het vanoggend ook ‘n woord vir julle. Vers 13 sê dat iemand wat so voor die Here leef en geleef het, sy nageslag sal die land bly bewoon. Of anders gesê: sy nageslag sal ook deur die Here versorg en geseën word.
Mag julle dit juis in hierdie oomblikke en dae ervaar. En bo alles: mag Psalm 25, veral die geloofshouding wat daarin na vore kom, so deel van ook julle, en ons ander se lewens broers en susters word, dat ons so vir oom ****, en al ons ander voorgangers, sal eer.
God seën julle. Mag sy liefde, genade en vrede elke oomblik by julle wees.
Amen