Psalm 73:23-28 God is altyd by sy kinders ________________________________________ Broers en susters in onse Here Jesus Christus: Ons ervaringe in die lewe, dit wat die lewe oor ons bring, maak dat ons dikwels ons ou lewe hier redelik sinneloos ervaar. Die Psalm wat ons saamgelees het, praat oor een so ‘n saak, een so ‘n ervaring wat dit aan ‘n mens kan doen (die lewe vir ‘n mens sinneloos kan laat blyk): die rykes wat teen God laster met hulle hele lewe, met hulle gaan dit goed. Maar hy, die psalmskrywer, wat in God glo, getrou en gehoorsaam voor God lewe, met hom gaan dit nie so goed nie. En dit maak mos nie sin nie. Eintlik moet dit net anders om wees. Daar is soveel ander voorbeelde wat ‘n mens kan opnoem, dinge wat mense laat voel hierdie lewe is nie die moeite werd nie, en om te bly lewe of te wil bly lewe eintlik nie so wonderlik is nie: so baie mense is alleen, so baie lewe in vrees vir wat ook al, so baie is siek, en word net sieker (soos dit in die laaste dae met oom **** was). Of, geliefdes van ons kom tot sterwe. Skielik is ons alleen. Met ons hartseer. En ons verlange. En alles lyk so swart. En nie net lyk nie, ons voel ook werklik swart in die hart. Alles lyk en voel so sinneloos in ons en rondom ons. Want ons weet: dit sal nooit weer dieselfde wees nie. Heel waarskynlik, tannie ****, soos julle vanoggend voel. Daar is verskeie moontlikhede om op hierdie gevoel en ervarings te reageer. In totale ongeloof kan ‘n mens sê (soos die rykes hier in die psalm): as jy sin in jou lewe en omstandighede soek, moet jy self daarvoor sorg. Maak nie saak wat dit kos nie. Al kos dit geweld, hooghartigheid, laster teen die hemel, maak nie saak nie. Sorg net vir jouself. Al is dit ten koste van ander. ‘n Tweede moontlikheid is die van kleingeloof. Waar mense sê: ek verstaan nou nie eintlik alles nie, ek verstaan nie hoekom ek siek is nie, hoekom iemand naby aan my so skielik gesterf het nie. Maar dit is maar hoe die lewe nou maar eenmaal is. ‘n Mens verstaan dit nie eintlik nie. En darem is God daar. Miskien sal Hy my help. Miskien sal Hy hierdie sinneloosheid in my lewe verdryf. Ek weet nie, miskien gebeur dit tog. Maar ek twyfel ook maar. Want die lewe is eintlik maar sonder sin. Daar is egter ook, broers en susters, ‘n derde moontlik om op ‘n mens se somtydse ervaring van sinneloosheid te reageer. Dit wat die psalmskrywer gedoen het. Wat hy gesien het, het nie sin gemaak nie. Hoe kan God toelaat dat dit met goddeloses goed gaan, maar met die gehoorsames/die gelowiges sleg? Dit is mos nie reg nie. Maar daar het dit nie vir hom gebly nie. In sy ervaring van sinneloosheid het hy na die Here gegaan. En toe hy in die teenwoordigheid van die Here kom, het hy twee sake ingesien: almal sal geoordeel word aan die einde van hulle lewe. En maak nie saak wat hier, in hierdie lewe, gebeur nie: die goddeloses, die wat ver van God is, sê die Psalm, se einde is sonder God. Maar die gelowige, die gehoorsame, sal nooit sonder God wees nie, sal nie sonder God sterf nie. Vir die gelowige is daar ‘n toekoms saam met God en by God. Ook na hierdie lewe. En tweedens: al het hy ervaar dat alles sinneloos was, God was nooit ver van hom gewees nie. Al het hy so gedink, al het hy so gevoel, God was maar altyd daar. Hierdie insig, broers en susters, van hierdie Psalmskrywer, hierdie ervaring van die werk van God in sy lewe, was dit nie ook so duidelik sigbaar in oom **** se lewe nie? Hy het dikwels vir my gesê dat hy nie werklik verstaan hoekom hy siek, en dikwels so siek, moes word nie. Hoekom dit juis hy moes wees, met soveel wonderlike mense in sy gesin rondom hom nie. Maar, het hy gesê, hy het geweet: dit was die Here se besluit, en daarom het hy daarby berus. Met ‘n berusting wat ek soms nie kon glo werklik in iemand se lewe kan wees nie. Ook het hy dikwels gesê: ek het ‘n vol lewe gehad. God was vir my goed. Daarom kan Hy my maar neem as dit sy wil is. Want ek weet: die Here is by my. En: ek sal altyd by die Here wees. Al sterf ek. En dikwels het ek gewonder, broers en susters, in alle eerlikheid, of ek, en baie ander wat ek ken, dieselfde sou kon sê in sulke omstandighede. Of my, en ander, se geloof so ‘n diepgang het. Die feit van die saak is egter, broers en susters, en dit is in wese die blye boodskap van God se Woord: wanneer God die mens ontmoet — soos hierdie Psalmskrywer God ontmoet het toe hy na God se teenwoordigheid in sy lewe gesoek het — ontmoet Hy ons in Jesus Christus. Hy wat vir ons die lewe en die dood oorwin het. Wanneer dit gebeur, maak God ons nie alleen nuut nie, Hy laat ons ook nuut en anders na die lewe kyk. So anders, dat selfs in die moeilikste omstandighede ons anders na die lewe kyk. Met ander oë. So anders, dat al weet ons dat ons besig is om te sterf, ons nog steeds blymoedig kan lewe. Dat ons nog steeds voluit kan lewe. Presies soos dit in sy lewe was. Dat ons dan soos hy, en die Psalmskrywer kan sê: al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte, by Hom is ek vir altyd. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as God nie. Daarom: in my om¬standighede weet ek dat Hy my sal lei met sy raad, en ek weet, aan die einde van my lewe, Hy my, op grond van die versoening van Jesus Christus, in ere by Hom sal opneem. Kan ons wat agterbly, broers en susters, so lewe? Is dit hoe ons lewe? Is dit ook wat ons kan sê oor die dood, oor ons eie dood? Al dink ons nie ons kan nie, ons kan. Want die mens wat naby God lewe, God maak so iemand nuut. God skenk aan so iemand nuwe lewe, en ewige lewe. Meer nog, soos met oom ****, skenk Hy so iemand die krag om in omstandighede wat hoe sinneloos mag lyk, blymoedig te lewe. Voluit te lewe. Te lewe met die groot en vaste sekerheid. God is altyd by my. Ook wanneer ek sterf, sal Hy by my wees. Want in Christus het Hy alles oorwin, ook die dood. Tannie ****, weer eens ons almal se innige simpatie op hierdie donker dag van finale afskeid. Ons voel saam met julle hartseer oor hierdie groot verlies. Ons almal sal hom mis. Ook sy onbaatsugtige en toegewyde betrokkenheid by hierdie gemeente. Maar kom ons neem waardig van hom afskeid. Soos hy dit, glo ek, sou wou gehad het: blymoedig in ons hartseer, met hoop in ons donker omstandighede. Want, en dit het hy ons voorgeleef: die Here is naby ons, en wanneer die Here naby ons is, kan geen omstandighede sinneloos wees nie. Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap