Daar word deur Christene algemeen aanvaar dat God by die skepping vir die mens ’n besondere taak gegee het. Hierdie taak kom die eerste keer in Genesis 1: 26 ter sprake, wat soos volg vertaal is in die jongste Afrikaanse vertaling van die Bybel: God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”
Dit is duidelik dat die mens hierdie taak, wat in Genesis 1: 28 as ’n opdrag gegee word, moet verrig in verantwoordelikheid teenoor God wat die skepper en eienaar is van die aarde en alles daarop. Die mens is dus geskep en aangestel as ’n rentmeester wat aan die eienaar rekenskap moet gee oor sy bestuur van en beheer oor die aarde en die diere. In die oë van God was hierdie skepping baie goed toe Hy dit aan mense toevertrou het (vgl Gen 1: 31).
Ons mense het egter klaaglik misluk in ons opdrag, en ons rentmeesterskap strek ons net tot skande. Dit is veral sedert die Industriële Revolusie van die laat 18de en vroeë 19de eeu in Europa en Noord-Amerika, dat verantwoordelike bestuur verander het in uitbuiting van die goeie skepping. Ná hierdie nywerheidsomwenteling het die mens se eie voordeel en gemak ’n al hoe groter rol begin speel. Die oorgang van die Laat Ystertydperk na die Vroeë Plastiektydperk in die vorige eeu het die uitmergeling van die aarde versnel, en die onbeteuelde aanwas van mense in die wêreld en ook in ons land, stel steeds groter eise aan die hulpbronne wat die bestaansmiddele moet verskaf.
’n Mens hoef nie ver te ry nie om die vernietiging van die aardbodem te sien wat deur mynbou aangerig word. Op baie plekke, veral in die hoogliggende gebiede van ons land, waar voorheen produktiewe landbougrond was wat kos gelewer het, is daar tans swart steenkoolkraters wat sogenaamd gerehabiliteer word, maar vir alle praktiese redes verlore grond is. Die spruite en riviere in daardie gebiede is so besoedel deur chemikalieë, deur rou riool en afvalprodukte uit veral die plakkerskampe, dat daar in baie gevalle geen waterlewe meer is nie.
Die verkwisting en rondstrooi van plastiek en ander sintetiese materiaal wat tussen vyfhonderd en eenduisend jaar neem om te ontbind omdat dit nie bio-afbreekbaar is nie, skreeu ten hemele, veral as in ag geneem word dat, van oor die wêreld, nou byna agtmiljoen ton plastiek per jaar in die see beland. In die Stille Oseaan is daar ongeveer 3,5 miljoen ton plastiese produkte wat deur seestrome in ’n gebied so groot soos Suid-Afrika byeengebring is en tot 30 meter diep onder die oppervlakte lê. Daar word bereken dat ongeveer ’n miljoen seevoëls en honderdduisend seediere jaarliks doodgaan van plastiekvergiftiging. Die skade wat plastiekafval meebring aan seelewe is onberekenbaar; om dan nie eens te praat nie van mikroplastiek en die gesondheidsgevare wat dít inhou vir mens en dier. Aardverwarming en die destruktiewe gevolge daarvan is ook die mens se maaksel.
Hoe kan ons as mense – ons, die sogenaamde kroon van God se skepping – ons voor Hom verantwoord oor al die vernietiging en vermorsing wat ons aanrig op sy goeie aarde? Watter soort rentmeesterskap oefen ons uit as dit kom by die verantwoordelike bestuur van dit wat Hy in liefde aan ons toevertrou het? Ons verknoei byna alles waaraan ons die hand waag. Dat God ons nog verdra op sy aarde en in sy skepping, is net te danke aan sy genade.
Vir ’n Christen strek rentmeesterskap ook verder as net die groot aardbodem en sy lewende wesens. ’n Mens is voor God ook rentmeester oor sake in jou eie lewe. Rentmeesterskap behels die verantwoording oor gawes wat jy ontvang het. In dié opsig kom talle vrae na vore: Hoe bewerk en bewoon ons die stukkie aarde waarop ons leef? Watter gesindheid teenoor hul omgewing kweek ons deur woord en voorbeeld by ons kinders? Hoe gee ons rekenskap van die aardse besittings wat God aan ons leen? Is dit slegs vir eie gemak, eie gewin en eie roem; of deel ons dit ook met hulle wat niks het nie? Is ons in dié opsig volgelinge van Jesus Christus? Hoe gee ons voor God rekenskap van ons persoonlike lewens wanneer dit kom by ons gesondheid, ons tydbesteding, ons eet- en drinkgewoontes, ons meelewing met mense wat in nood verkeer? Al hierdie vrae trek saam in één kernvraag: Hoe staan ons voor God in die erkenning van sy gesag oor ons daaglikse lewens?
Ons Kerk het in die verlede, en dalk ook nog vandag, in die prediking besonder baie aandag gegee aan die verlorenheid en verlossing van die mens. En tereg ook! Ons predikante is in die verlede opgelei met die slagspreuk: Verkondig Christus alleen! Hierin het die woorde van die apostel Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs ’n baie belangrike rol gespeel wanneer hy sê (volgens die 1983-vertaling): Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2: 2).
Ons is geleer ’n preek is nie ’n preek as dit nie by die kruis van Christus uitgekom het nie. Ons is as studente gewaarsku teen die sogenaamde social gospel waarin ’n prediker in sy boodskap dit sou waag om ook aandag te gee aan sosiale en politieke probleme. Vandag weet ons dit is ’n geval van die eerste beslis doen, maar die ander nie nalaat nie.
Christene het onvermydelik voor God ook ’n verantwoordelikheid ten opsigte van die skepping, en in die kerk se verkondiging moet daaraan aandag gegee word, sonder om die prediking te laat vervlak tot blote vroom natuurlesse. Dit strek ons Kerk tot oneer dat ons die opdrag van God by die skepping oor die mens se rentmeesterskap nie genoeg ter sprake gebring het nie in eie geledere en in ons getuienis teenoor die wêreld.
(Prof Andries Breytenbach, emeritus, is leraar in Gemeente Vanderkloof)
