Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Die lewe gebeur nie maar sommer net nie. In hierdie lewe kom ons nie maar net sommer dinge oor nie. Sekere goed duik nie eenvoudig maar net op in ons lewenspad nie. Want op een of ander manier, soms verstaanbaar, soms nie, soms verklaarbaar, soms nie, soms sigbaar, soms nie, is God in ons lewens teenwoordig en werksaam.
Wanneer ek so praat, praat en natuurlik, in die eerste plek, as ‘n gelowige, en tweedens vanuit persoonlike geloofservaring.
- Dieselfde kan ons van Naomi, Rut en Orpa in ons vertelling van vanoggend sê:
- Eers was daar hongersnood in Bethlehem, maar God gee vir Naomi en haar man uitkoms in Moab;
- toe Naomi se man sterf is haar twee seuns daar om haar te ondersteun en by haar te bly;
- haar twee seuns ontvang later elkeen ‘n vrou as geskenk uit die hand van die Here;
- toe haar twee seuns sterf, gee God uitkoms uit die hongersnood, en Naomi kan terug na Bethlehem;
- weer voorsien God dan: Rut weier dat Naomi alleen gaan, en by Bethlehem aangekom, herken die ou bekendes haar en sy is weer dadelik versorg.
Net so, N en N, staan julle nie vanoggend hier maar net omdat dit gebeur het nie. As julle mooi terugkyk op julle lewenspad sal julle, indien julle met die regte geloofsoog kyk, raaksien op watter wyses God gesorg het dat julle twee vanoggend hier kan staan. Daar was ook ander verhoudings, daardeur het God julle gelei. In soveel keuses het God julle bygestaan. Soveel keer het die Gees van God, soms vir ons totaal onherkenbaar, ons aan die hand gevat en ons bewaar. Maar elke dag was God by ons. So bely die gelowige, want die gelowige kan nie anders nie.
Julle kan dus vanoggend weet, en moet dit ook vas glo, dat julle huwelik die wil van God is. Want nie alleen gebeur niks met ons wat nie God se wil is nie, maar op sy manier sorg God vir ons, en voorsien Hy in wat ons nodig het.
Wat behoort ons reaksie hierop te wees? Hoe sê ons vir God dankie vir dit wat Hy alles so onverdiend aan ons skenk? Deur twee dinge te doen: Deur Rut se bekende antwoord aan Naomi (gaan, bly, God, volk, sterf, begrawe) nie alleen vandag aan mekaar te beloof nie, maar ook aan God.
Kom ons kyk eers na Rut se woorde as antwoord aan God. Dit sê: Here, ons sal altyd in u teenwoordigheid bly, ons sal u teenwoordigheid opsoek. Waar U is, en waar U Woord is, daar sal ons wees. En daarom, waarheen en hoe U Woord ons lei, ons sal dit volg. Laat U Woord die rigsnoer vir ons huwelik wees.
En wanneer dit gebeur, wanneer ons werklik so in God se teenwoordigheid en saam met die Woord van God lewe, is dit dan ook nie moeilik om Rut se woorde aan Naomi ‘n belofte aan mekaar te maak nie. Want dan sal dit wees wat ons wil doen. Want wie werklik God se teenwoordigheid opsoek en in sy lewe verlang, wie werklik God se Woord teen sy/haar vasdruk, kan nie anders as om te lewe soos God van ons vra nie, ook in die huwelik.
Maar kom ons kyk, hoe lyk ‘n lewe in die huwelik wat sê: gaan, bly, God, sterf?
Eerstens: Jou God is my God, met ander woorde, ons glo saam in God, God se Woord spreek ons dus albei aan, uit dieselfde Woord kom die wyses waarop ons teenoor mekaar moet lewe.
Dit is die eerste en belangrikste, wanneer dit gebeur het, en dit is ons erns, kom die ander dinge eintlik sommer vanself. Dinge soos
- vergifnis
- verdraagsaamheid
- ondersteuning
- geduld
- bied van ruimte
- meelewendheid
- sagmoedigheid
Ja, dit alles vra harde werk, maar as ons opreg sê: Jou God is ook my God, dit is ons God, daarom, sy Woord is ook ons Woord, ons word daardeur aangespreek, ons hoor dit saam in die erediens, ons glo dit saam, daarom, ons doen dit saam; dan begin ons ten minste reg. Dan is ons vertrekpunt ten minste reg. Dan begin ons ten minste die pad reg saam te stap.
N en N, maak hierdie belofte van Rut aan Naomi ook vanoggend ‘n belofte aan mekaar. ‘n Belofte waarmee julle eintlik sê: In die eerste plek vat ons vir God saam met ons. Want jou God is my God. En dan, met God saam met ons, kom ons stap die pad saam soos God van ons vra.
Dan, glo ek, sal julle ook, net soos Rut aan die einde van haar lewe, kan terugkyk en sê: omdat God by ons was, omdat ons graag by God wou wees, omdat God by wyse van sy Woord altyd by ons was, altyd ons rigsnoer was, was waar ons gegaan het, was waar ons vertoef het, daarom het ons ‘n goeie lewe gehad.
Mag God julle so seën.
Amen