Kom ons verbeel ons ons kom Sondagoggend by die kerk aan. Soos elke Sondag het ons die bekende pad na die kerk gery. Ons gewone roetine is om die mense by die deur te groet en dan die kerkgebou binne te stap. Maar hierdie Sondag is anders. Teen die hek hang ’n groot kennisgewing: Gemeente het toegemaak.
Ons gaan staan en lees dit weer. Wat beteken dit? Hoe het dit gebeur? En dan kom die vraag wat moeiliker is om te antwoord: Wat sal ek mis? Die eredienste, die nagmaal, die bekende gesigte, die saamsing en saam bid, die gesprekke ná die diens? Die mense wat saam met my deur moeilike tye gestap het? Die plek waar ek my kinders laat doop het en waar ons geliefdes se lewens aan God se genade toevertrou is?
Maar daar is nog ’n vraag: Wat sal die gemeenskap mis? Wie sal na die mense omsien wat swaarkry? Waar sal kinders van die evangelie hoor? Wie sal hoop bring waar mense moed verloor het? Wie sal ’n stem van versoening laat hoor in ’n stukkende gemeenskap? Dit is ongemaklike vrae. Tog is dit vrae wat ons nie langer kan uitstel nie. Dit gaan immers nie net oor die voortbestaan van ’n gemeente nie. Dit gaan oor die roeping van die kerk en oor die erfenis wat ons aan ons kinders en kleinkinders wil nalaat.
In sy artikel in Blitspos (27 September 2026), Samewerking ter wille van ons kleinkinders, wys ds Colin Hertzog op die noodsaaklikheid van samewerking. Hierdie gesprek verdien om verder gevoer te word. Hoe beweeg ons van die besef dat ons uitdagings saam moet aanpak, na die bereidheid om dit inderdaad saam te doen? Ek wil drie gedagtes voorstel: saam luister, saam praat, en saam doen.
Saam luister: Om te verstaan voordat ons antwoord
Ons is dikwels vinnig om te antwoord. Ons het klaar ’n mening wanneer iemand anders nog besig is om sy of haar verhaal te vertel. Ons hoor die woorde, maar verstaan nie altyd die waarheid daaragter nie. Dit gebeur ook in die Kerk.
Gemeentes se omstandighede verskil. Sommige het nog genoeg lidmate, finansiële middele en leiers om hulle bediening met vertroue voort te sit. Ander worstel met dalende lidmaattalle, finansiële druk en toenemende verantwoordelikhede. Daar is gemeentes wat bekommerd vra hoe hulle die toekoms gaan hanteer, terwyl ander wonder of samewerking nie uiteindelik hulle identiteit gaan bedreig nie.
Al hierdie stemme verdien om gehoor te word. Ons moet kan luister sonder vooroordeel, sonder om ons eie oplossing op almal af te dwing en sonder om te aanvaar dat ons reeds al die antwoorde het. In die begeleiding van gemeentes leer ons telkens hoe belangrik dit is om ruimte vir eerlike gesprek te skep. Agter weerstand lê daar soms vrees. Agter die behoefte om dinge te behou, lê daar dikwels ’n kosbare verhaal van geloof, opoffering en verbondenheid. Ons moet daardie verhale hoor voordat ons oor verandering praat.
Luister vra ook dat ons eerlik na die post-Christelike werklikheid om ons kyk. As ons die toekoms van die Kerk ernstig opneem, moet ons bereid wees om te onderskei hoe God deur sy sending, die Missio Dei, reeds in die wêreld werk.
Saam praat: Ons moet die toekoms eerlik bespreek
Wanneer ons begin luister, ontstaan daar ruimte om saam te praat. Nie net oor wat ons verloor het nie, maar oor wat moontlik is. Nie net oor hoe ons die verlede kan behou nie, maar oor hoe ons die evangelie in die toekoms geloofwaardig kan uitleef. In my artikel, Wanneer die lig stilletjies dowwer word (April 2026), het ek geskryf oor die gevaar dat ’n gemeente steeds kan funksioneer, terwyl haar roepingsbewustheid geleidelik verdof. Die kerkraad vergader, die programme gaan voort en die begroting word bestuur. Tog kan ons so besig raak om bestaande bedieninge in stand te hou dat ons nie meer genoegsaam vra wat God se wil is nie.
Die tekort aan predikante maak hierdie gesprek dringend nodig. Ons kan nie eenvoudig aanvaar dat elke gemeente altyd op dieselfde manier deur ’n predikant bedien sal word nie. Ons moet praat oor die opleiding en begeleiding van predikante, die ontwikkeling van lidmate se gawes, gedeelde bedieningsverantwoordelikhede en nuwe maniere om bediening en diens te organiseer. Ons moet ook praat oor finansies, geboue, kategese, eredienste en die gebruik van ons gesamentlike hulpbronne. Dit is nie bloot administratiewe sake nie. Dit raak die vraag of ons ons roeping in die gemeenskappe waar God ons geplaas het, volhoubaar kan uitleef.
Hierdie gesprekke sal nie maklik wees nie. Daar sal verskille wees. Sommige sal verandering as noodsaaklik beskou, terwyl ander versigtig sal wil beweeg. Ons moet ruimte laat vir albei. Maar ons mag nie toelaat dat ons verskille die gesprek onmoontlik maak nie. Die belangrike vraag is nie bloot: Hoe hou ons alles aan die gang nie? Die vraag is: Wat vra God nou van ons, en hoe kan ons mekaar help om daarop te antwoord?
Saam doen: Die gemeenskaplike doel is belangriker as ons voorkeure
Dan kom daar ’n tyd wanneer ons verantwoordelike besluite moet neem en saam moet optree.
Die Algemene Kerkvergadering se besluit oor moontlike reaksies op die Kerk se uitdagings, soos dit in die voorafgaande gesprek beskryf word, plaas belangrike moontlikhede op die tafel: sinergie, samewerking, samesmelting en selfs ontbinding. Hierdie woorde kan weerstand oproep, want dit raak aan ons bekende manier van kerkwees. Tog behoort ons nie die moontlikhede vooraf af te wys bloot omdat dit anders lyk as waaraan ons gewoond is nie.
Sinergie beteken dat ons mekaar se gawes en hulpbronne só aanvul dat die gesamentlike bediening meer kan beteken as wat ons afsonderlik kan bereik. Samewerking beteken dat gemeentes verantwoordelikhede en geleenthede deel. Samesmelting kan in bepaalde omstandighede ’n nuwe gemeentelike werklikheid skep. En soms moet ons die moed hê om te erken dat ’n bestaande struktuur nie meer volhoubaar of dienstig is nie en dat ontbinding ruimte vir ’n ander vorm van bediening kan skep.
Geen enkele oplossing sal vir elke gemeente reg wees nie. Daarom is onderskeiding nodig. Maar ons moet die moontlikhede beoordeel aan die hand van ons gemeenskaplike roeping, nie bloot aan die hand van ons persoonlike voorkeure nie. Ons is immers nie die eienaars van die Kerk nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap wat aan Christus behoort. Ons het die evangelie ontvang om dit te verkondig, uit te leef en aan die volgende geslag oor te dra.
Dit beteken dat ons minder krampagtig aan die verlede moet vasklou. Ons geskiedenis verdien waardering. Ons tradisies dra kosbare herinneringe. Maar ons moet onderskei tussen die evangelie waaraan ons getrou wil bly en die historiese vorme waarin ons dit tot dusver bedien het. Om getrou te bly, beteken nie dat alles onveranderd moet bly nie. Soms vra getrouheid juis dat ons anders begin dink en doen.
Dit vra dat ons saam nuwe bedieningsmodelle ontwikkel, verantwoordelikheid deel en lidmate toerus om hulle gawes in diens van die evangelie te gebruik. Ons moet nie net vra hoe ons die bestaande bediening kan beman nie, maar hoe ons saam kan verseker dat mense steeds die evangelie hoor en pastorale sorg ontvang.
Kom ons keer terug na daardie kennisgewing by die kerkhek: Gemeente het toegemaak. Miskien sal ons eendag moet erken dat ’n bepaalde gemeente nie meer in sy bestaande vorm kon voortgaan nie. Dit sal hartseer wees. Daar is verhale, herinneringe en mense aan elke gemeente verbind. Ons mag nooit ligtelik daaroor praat nie. Maar die sluiting van ’n gemeente hoef nie die einde van haar roeping te beteken nie. Die belangrike vraag is wat daarna gebeur. Het ons saam gesoek na ander moontlikhede? Het ons die mense en die gemeenskap bly dien? Het ons die moed gehad om verantwoordelik op te tree toe die bekende nie meer volhoubaar was nie?
Ons kleinkinders gaan nie net belangstel in hoeveel kerkgeboue ons behou het nie. Hulle gaan ook wil weet of ons die evangelie aan hulle oorgedra het, of ons mekaar gedra het en of ons bereid was om ter wille van die groter roeping saam te werk. Die toekoms van die NHKA sal nie deur strukture alleen bepaal word nie. Dit sal ook gevorm word deur ons bereidheid om te luister, eerlik te praat en verantwoordelik saam te doen.
Ons hoef nie vandag al die antwoorde te hê nie. Ons moet wel bereid wees om sonder aarseling ernstige aandag aan sinergie binne die Kerk te gee. In ’n volgende artikel sal meer uitgebreid hieroor gesels word. Ons sal dan kyk na praktiese voorbeelde van samewerking, samesmelting en ontbinding in die Kerk.
(Dr Hannes Janse van Rensburg is leraar van Gemeente Zuurfontein)