Romeine 8: 18-25
Romeine 8 is so ’n opwindende, belofteryke gedeelte in die Here se Woord, en tog neem die hoofstuk ’n duidelike wending in die gedeelte wat ons vandag bekyk. Die wending klink met die eerste oogopslag vreemd, eintlik soos ’n wanklank te midde van al die wonderlike uitsprake wat dit voorafgaan. Want drie maal verwys die apostel nou skielik na sugte. Hy stel dat die skepping sug in die pyne van verwagting. Verder ook dat die gelowiges sug, hulle wat die Gees ontvang het. Die apostel gaan nog verder – selfs die Heilige Gees sug ook. En die Gees van God sug blykbaar die swaarste van almal!
Hoe moet ons dit verstaan? Die sleutel lê opgesluit in die beeld wat die apostel Paulus hier gebruik van pyne van verwagting. Hy sinspeel waarskynlik hier op die pyn wat ’n vrou ervaar wanneer sy geboorte skenk. Dit is seker een van die ergste pyne denkbaar en tog is dit ’n kortstondige pyn en verder ook ’n pyn wat uitloop op iets wonderliks – die koms van ’n nuwe lewe!
En die apostel pas dan hierdie beeld toe op die lewe van die gelowige. Ons leef in ’n onvolmaakte en tydelike lewe, waarin ons dikwels sug van hartseer, kommer en frustrasie. Maar ook hierdie sug en pyn is kortstondig en sal vir ons uitloop op iets wonderliks, naamlik die ewige lewe.
Alles sal nuut word, ook die skepping, die natuur en alles daarin. Hoe pragtig ook al dit vergaan uiteindelik, maar as dit vergaan, is daar die nuwe, die volmaakte, die ewige. So spreek Romeine 8 dan die laaste woord in ons gelowige nadenke en belewing van die skepping. Terwyl ons die Here se handewerk geniet en bewonder, weet ons dit alles sal verbygaan. Die nuwe sal kom!
Gebed
Here, hoe wonderlik dat U alles nuut sal maak. Ons sien met verlange daarna uit om deel van u nuwe hemel en nuwe aarde te wees!
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort