2 Korintiërs 4: 5-10

Om te sê iemand het voete van klei, is nie ’n kompliment nie. Die beeld van klei word in verskeie Bybelverhale gebruik, soms positief, soms nie. God skep Adam uit klei – ’n verhaal van lewe. In Jeremia is God die pottebakker en die mens soos klei in God se hande. God skep ’n kunswerk – ’n positiewe beeld. Maar die klei moenie dink dit is in beheer nie – ’n waarskuwing. Jesus gebruik klei om die blinde man weer te laat sien –’n verhaal van genesing. In die Korintiërs-brief is die gelowige ’n kleipot wat ’n skat daarin dra. Sommige vertalings praat van slegs ’n kleipot of ’n kleipot wat maklik breek, maar die brief sê net: ’n kleipot.

Die verhaal van klei is baie eeue oud. Klei is verweerde rots wat deur wind, water en ys afgebreek word. Sónder water is dit net gekraakte aardkors. Mét water word dit sagte, bruikbare klei. Reeds in die steentydperk het mense klei ontdek en tot hul voordeel gebruik. Die industrie word vandag deur massaproduksie gekenmerk, maar daar is nog pottebakkers wat met respek en liefde self met die klei werk. Hulle leer van die klei. Dat dit sag en buigsaam is. Dat dit goeie voorbereiding, beplanning en geduld verg. So word iets eenvoudigs en gewoons wat liefde en aandag ontvang, ’n unieke kunswerk. Wanneer die kleipot in die oond gaan om gebak te word, kan die pottebakker maar net loslaat en vertrou. Deur die proses van loutering word die kleipot sterk.

In die Bybelse tyd is erdewerk gesien as waardevol en duursaam. Belangrike manuskripte is daarin bewaar. Kleipotte is in tempels gebruik – goed genoeg vir die gode. Kleipotte wat die skat van God se lig dra, is nie slegs ’n kleipot wat maklik breek nie. Die Kunstenaar het geskep, herskep en die kleipotte gebak in die vuur van die Gees om dit sterk, duursaam en waardevol te maak – kunswerke wat kragtig en vrymoedig hul roeping vervul deur die skat te dra en God se lig in die wêreld te laat skyn.

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus