Psalm 1

Vir bykans alles in die lewe is daar riglyne, van koekbak tot die hoeveelhede kos vir jou hond. Psalm 1 bied vir ons riglyne vir die lewe.

Almal wil gelukkig wees en vrede ervaar. Hoe om hierdie geluk te bereik, word in die Psalm aan die hand van twee groepe die regverdiges en goddeloses verduidelik. Om tot die groep regverdiges te behoort, is daar geen voorwaardes nie en almal is welkom. Tog is daar huisreëls wat bekend staan as die Tien Gebooie. Tog het die Tien Gebooie geen verlossingswaarde nie – jou verlossing word nie bepaal deur hoe getrou jy hierdie riglyne nakom nie, maar die primêre doel is om in God te glo en Hom te verheerlik.

As jy tot die regverdiges hoort, het jy ’n doelbewuste keuse vir God gemaak. Dan is jy voortdurend besig met die woord van God, maar meer nog, jy leef dit! Jy weet dat daar sonder God geen ware, blywende geluk is nie.

Die Psalm waarsku nie verniet teen die goddeloses en sondaars nie. Ons is daagliks omring met mense, maar voel hulle oor God soos ons? Is Hy ook ’n bepalende faktor in hulle lewe of is hulle op die pad van verganklikheid?

In watter groep is jy tuis? Die van die regverdiges of die goddeloses? Almal sal graag in die groep van die regverdiges gereken wil word. Nie omdat ons sonder sonde is nie, maar omdat ons regtig probeer om ons lewe volgens God se Woord in te rig. Ons vind ons vreugde daarin om te doen wat God wil.

Maar wat sal die mense saam met wie ons sit, staan en loop hier teen Donderdag sê wanneer ons moeg en afgemat is? Dat jy steeds ’n boom is wat koelte bied vir ander wat ook moeg is en dat jy steeds vrug dra? Of sal hulle eerder sê jy is soos kaf wat deur die wind in hul oë gewaai word en so gou moontlik uitgewis moet word?

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes