Lukas 6: 36
So, wat doen jy vir ’n lewe? Dit is die vraag wat al by menige braaivleisvuur tussen vreemdelinge gevra is. Let ’n bietjie op wat ons vra: Ons vra ’n vraag met ’n werkwoord daarin. Wat doen jy vir ’n lewe? Hoe antwoord ons egter hierdie vraag? Ons antwoord gewoonlik met die een of ander selfstandige naamwoord: Ek is ’n bouer, ingenieur, loodgieter, konsultant… Ons vra die “doen-vraag”, maar ons kry en gee die “is-antwoord”, nie waar nie?
Die spanning tussen is en wees kom ook voor in ons lewe in die Here se teenwoordigheid. As ons moet gaan kyk na al die dinge wat ons in Jesus Christus is, sou ons baie lank besig kon wees. In Jesus Christus is ons nuwe mense. Paulus beskryf hierdie “nuwe menswees” met baie beelde: Ons het ons ou klere uitgetrek en in Christus nuwe klere aangetrek. Ons het ons vleeslike bestaan laat vaar, en ons Geestelike bestaan opgeneem. Ons kan ook sê dat ons in Jesus Christus dissipels van Hom geword het; of kinders wat deel is van die huisgesin van God.
Dit is maar enkele maniere hoe ons genoem word (selfstandige naamwoorde), noudat ons deelgenote van Jesus Christus geword het. Ons besef egter alte goed dat al is hierdie selfstandige naamwoorde hoe belangrik, dit niks beteken as ons nie ook hierdie titels/name/karaktertrekke gaan uitleef nie. Ons selfstandige naamwoorde in Jesus Christus beteken niks as dit nie werkwoorde in ons lewens word nie.
Jesus se woorde in Lukas 6: 36 beteken, daarom, so baie: Wees barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. As dissipels van Jesus Christus en as volgelinge wat ons ou klere verruil het vir nuwe klere in Jesus Christus, is dit ons werk om te gaan wees wat ons reeds in Jesus Christus is. Mag ons, daarom, besef wat ons in Jesus Christus is, sodat ons dit ook kan gaan wees. Hoe? Met dade van omgee, liefde en barmhartigheid.
Ds Steve Oxton, Wapadrant