Handelinge 4: 1-22

Hier ontmoet ons twee eenvoudige vissers met geen geleerdheid wat groot opslae veroorsaak in Jerusalem. Eers het hulle een nag te midde van geweldige rukwinde en vuurtonge, in al die tale van die mense in Jerusalem gepraat. Daardie nag raak hulle die lewens van ongeveer drie duisend mense aan. Dan gaan hulle op ’n dag na die tempel waar ’n man, wat al meer as veertig jaar lank verlam was, sit en bedel, en hulle laat hom loop. Daardeur het hulle nog mense se lewens aangeraak, sodat daar oor die vyf duisend gelowiges was.

Nou staan hierdie manne voor die Joodse Raad wat hulle laat vang het. Die Raad is verbaas oor die vrymoedigheid van die twee vissers. Uiteindelik kan hulle dié twee eenvoudige mense op hul eie gebied, die wet en die skrifte, nie vastrek nie.

Die invloed van hierdie manne hou nie op nie. Uiteindelik verander dertien mense die verloop van die ganse geskiedenis. Lukas was ’n dokter en Paulus ’n geleerde, maar die res van hulle was almal ongeletterd. Maar deur hul werk groei die Christendom totdat dit vandag deur miljoene mense oral in die wêreld bely word.

Wat maak dat hierdie mense sonder groot wêreldse kennis en geleerdheid soveel invloed uitoefen, dat hulle name opgeteken staan in die Bybel, om nooit vergeet te word nie? Hulle het die Here geken en gedien. Hulle het kennis van God gehad en dit heelhartig geglo, en dit gebruik om God te dien.

Ons leef in die eeu van die kennisontploffing. In geen ander eeu het die mens soveel nuwe kennis op soveel terreine opgedoen as juis in hierdie eeu nie. Maar die kennis wat ewigheidswaarde het, is die kennis van wie God is en hoe Hy sy genade aan die wêreld kom wys het. Met hierdie kennis kan ons die wêreld verander.

Dit is die belangrikste boodskap wat jy vandag kan uitdra. Laat hierdie belydenis vandag met jou woorde en jou dade ’n verskil maak.

Ds Manda le Roux, Weskus