Efesiërs 4: 30

En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

Die belofte dat ek gewaarmerk (beseël) is om as die eiendom van God gereken te word – in elke omstandigheid van my aardse lewe, maar spesifiek ook op die dag van God se finale verlossing – is ’n kosbare skat van onmeetbare waarde. Dit maak ’n mens diep dankbaar om soveel te ontvang, veral as ons weet dat ons niks verdien nie.

Maar daar is ook ’n waarskuwing in ons teks: …moenie die Heilige Gees van God bedroef nie. Sien, daar is ’n sensitiwiteit waarmee ons moet leef. Ons moet die heeltyd diep bewus wees van God se Gees binne ons. Die Heilige Gees word bedroef deur sonde, deur ongehoorsaamheid, deur ’n houding wat teenoor sy natuur is. Ons kan nie aan die een kant dankbaar wees dat God so naby is dat Hy deur sy Gees IN ons is nie, én ook dink dat Hy ver is as ons sondig nie. Nee, ons keuses raak Hom, direk. Ons doelbewuste verkeerde besluite maak God hartseer. Dit doen Hom oneer aan. Dit ontstel Hom – en Hy is die Een wat jou die onmeetbare skat van die ewige lewe gegee het.

Die waarskuwing en die belofte in ons teks moet SAAM GELEES en SAAMGEVOEG word in my lewe. Aan die een kant is ek gewaarmerk (beseël) vir die dag van verlossing – ek behoort permanent aan God, ek word vir die ewigheid beskerm, ek het deel aan die finale verlossing. Maar, aan die ander kant, moet ek mooi let op my houding, bedag wees op gedrag en versigtig wees met my keuses van elke dag. Met ander woorde, ek moet elke oomblik bewus wees van die Gees se teenwoordigheid, sódat ek Hom nie bedroef nie. Ek moet doelbewus leef met my gees oop vir God se Gees, met my gees ontvanklik vir die inspraak van God se Gees … elke dag ingeprop én aangeskakel by God se muurprop (hart).

Ds Dawie Jacobs, Emeritus