2 Timoteus 3: 1-17

Ons leef in ’n skynwêreld. Alles gaan oor voorkoms, voorgee. Wanneer mense vir ons vra hoe gaan dit, antwoord ons: Goed, dankie, om die skyn van ons lewens voor te hou. Alles moet goed en reg lyk – die skyn moet voorgehou word, anders loop ons die risiko dat die stukkendheid en werklikheid van die lewe deurskemer. Hierdie skynbestaan skemer ook deur in ons geloof. Volgens ’n 2013-opname is meer as 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene. Tog reflekteer ons kerke en ons samelewing nie hierdie statistiek nie. Talle mense het maar net die uiterlike skyn of voorkoms van geloof soos Paulus in 2 Timoteus 3 skryf.

Paulus waarsku in 2 Timoteus 3 vir Timoteus, wat ’n jong kerkleier was, teen die gevare van skyngodsdiens. Skyngelowiges is mense wat selfsugtig leef, net hulself lief het en geen liefde vir God het nie. Wanneer Paulus vir Timoteus teen ’n skyngeloof waarsku, gee hy vir Timoteus twee opdragte. In die eerste plek: Bly weg van valse voorgeegelowiges af. In die tweede plek: Bly by wat jy geleer het en waarin jy vas glo soos jy in die Bybel leer.

Dit kom daarop neer dat ons die gawe van onderskeiding moet beoefen om opregte en ware volgelinge van Christus te wees. In die skynwêreld waarin ons leef, raak dit al hoe meer noodsaaklik om te onderskei tussen opregte gelowiges en skyngelowiges sodat ons nie mislei word nie. Hoe leer ons hierdie onderskeidingsvermoë aan? Deur die Bybel die riglyn vir ons lewe te maak, deur kerk toe te gaan om in die geloof onderrig te word, en deur deel te neem aan die sakramente om in die geloof versterk te word. So word ons die kennis bygebring wat tot verlossing lei deur geloof in Jesus Christus.

Gebed

Ons bede is vandag dié van NP van Wyk Louw in sy gedig Vroegherfs:

Heer, laat hierdie dae heilig word:

laat alles val wat pronk en sieraad was…

laat stort my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.

 

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom  /  Hervormde Teologiese Kollege