Matteus 28: 16-20
Ons ken hierdie gedeelte van Matteus as die Groot Opdrag waar Jesus aan sy dissipels ’n laaste opdrag gee ná sy Opstanding. In SENTIK se boek vir die Belydenisgroep word die vraag gevra hoekom daar net 11 dissipels is, met die antwoord dat die dissipel Judas nou reeds sy eie lewe geneem het en daarom is daar nie meer 12 dissipels nie. Tog laat dit ’n mens bietjie wonder of daar nie meer lê in Matteus se doelbewuste bevestiging dat 11 dissipels na Galilea toe gegaan het nie.
’n Interessante parallel wat ons raaksien is die groei van Israel se 12 stamme teenoor Jesus se 12 dissipels. Beide is as ’n oorblyfsel van die oorspronklike geroep om in ’n nuwe bedeling die Here te volg. In Jesaja lees ons hoe hierdie oorblyfsel, ná die skeur van die Noord- en die Suidryk, en ná die Babiloniese ballingskap, steeds die volk van God is wat God kies en beskerm, maar ook roep om sy getuies te wees aan al die nasies oor God se almag en genade. Hier in Matteus lees ons dat Jesus die 11 dissipels wat oorgebly het, hulle wat Hom verloën het, wat getwyfel het, wat weggehardloop het, steeds as sy dissipels roep om al die nasies sy dissipels te gaan maak. Beide is getoets, uitgedun en gelouter, maar was steeds dit werd vir die Here om getuies, diensknegte, en kinders van God in hierdie wêreld te wees.
Dit laat ons amper dink Matteus is besig om te skryf dat die dissipels in hul gebrokenheid steeds gekies en vertrou word met hierdie laaste groot opdrag. So ook word ons geroep, in ons gebrokenheid, om op te staan en steeds Jesus te volg in die tyd en plek waar ons is. Mag ons dan ook besef dat ons nie te stukkend is vir die koninkryk van God nie, maar ons moet wel kies om op te staan. Petrus moes Jesus weer in die oë kyk nadat hy Hom drie keer verloën het, en steeds het Jesus hom as die rots gekies en geroep. Mag ons kies om op te staan, Jesus in die oë te kyk, en Hom te volg – al is ons nou net elf.
Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid