Lukas 1: 47-55
Maria sing in haar loflied dat God mense raaksien en dat God op mense se nood en behoeftes reageer. Verder dat God getrou bly aan Homself en bevryding bring vir elkeen wat in afhanklikheid van God leef. God moet geloof word, want Hy gryp in en bring verandering. Watter wonderlike gedagte om te weet God nie blind is vir die nood van mense nie. God is heilig en almagtig, maar ook liefdevol en besorg. Dis ’n wonderlike troos, of dit die volk Israel was wat erge politieke of landboukrisisse beleef het, of gelowiges vandag met eiesoortige uitdagings. God kan assosieer met ons omstandighede. God is by ons. Ons word ondersteun en bemagtig, gelei deur die kragtige werk van die Heilige Gees. God is met ons, maak nie saak hoe omstandighede lyk nie. Daarom kan ons saam met Maria ’n loflied sing. Ons kan klanke maak oor hoop en vertroosting. Ons kan God in gebed aanroep en Hom herinner aan sy beloftes van barmhartigheid en teenwoordigheid.
Hierdie gedeelte maak ons harte oop en laat ons met sagte oë na die wêreld kyk. Bewus van mense in nood en pynlike omstandighede. Dat ons nie net ’n loflied tot eer van God sing oor sy betrokkenheid, goedheid, versorging en barmhartigheid nie, maar dat ons God se groot werke sal leef. Ons moet ook mense raaksien en op hul nood reageer, en hulp en bevryding kan bring. Die positiewe verandering in ’n gebroke samelewing moet by ons begin. Die kwaliteit van ons liefde en lewe word gekenmerk deur die kwaliteit van ons hulp aan ander. Die diepte en erns van my geloof word onderstreep deur my sensitiewe bewussyn van die stukkende wêreld rondom my. Is ek die hoop, omgee, antwoord, verligting, die Adventboodskap waarna die mensdom smag?
In die loflied word God as Verlosser bely vir almal, die armes, onderdruktes, hongeres. Advent handel oor die goeie nuus van God se ontferming en handelinge in elkeen se lewe. God sien ons raak, God raak ons aan.
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth