Filippense 2: 5-11
Die pragtige lied in Filippense vat die boodskap wat die Christendom die wêreld wil indra, mooi saam. Hierdie lied besing die reddingswerk wat Jesus Christus vir die sondaarmens kom doen het. Die lied bely dat Jesus wat self God was, bereid was om homself te verneder en mens te word. Meer nog, hy was bereid om te sterf aan ’n kruishout ter wille van die sonde van die mens. Christus was bereid om uit liefde vir die mens alles te doen. Dit is die boodskap van liefde en vreugde wat die kerk van die vroegste tye af vir die wêreld wou oordra.
Hoe moet ons hierdie boodskap die wêreld indra? In vers 5 staan daar dat daar in ons dieselfde gesindheid moet wees wat daar in Jesus Christus was. Ons kan nie hierdie boodskap oordra as daar nie by ons ook die gesindheid van liefde, nederigheid, diens en prysgawe is nie.
Christus wat self God is, het die gestalte van ’n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword. Dit word beskryf as vernedering. In hierdie tyd fokus ons op Jesus se lydensweg en kyk na die invloed wat sy lydensweg op ons lewensweg moet hê. Is hierdie gesindheid van nederigheid en prysgawe ook by jou sigbaar?
Wat moet jy prysgee wat vir jou te belangrik geraak het? Wat verhinder jou om Jesus se gesindheid te openbaar? God se Gees woon in jou en sy vrug moet in jou lewe sigbaar word. Wat in jou verskans die beeld van God? Bid dat God deur die werking van sy Gees jou geestesoë sal open sodat jy hierin kan groei.
Die inhoud van hierdie lied moet ook die lied wees wat ons met ons lewe sing. Kom ons besing saam met die vroeë kerk die genade wat God in Jesus Christus aan ons kom bewys het.
Gebed
Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig,
En van dankbaarheid getuig.
(Gesang 308: 1)
Ds Manda le Roux, Weskus