Openbaring 1: 4; 3: 1; 4: 5; 5: 6
Ons reis met die Drie-enige God in Openbaring was ’n moeilike en soms onduidelike reis met onbekende plekke en simboliese taal. Vandag staan ons vir ’n kort rukkie stil by wat Openbaring vir ons van die Heilige Gees leer.
Die verwysings na die Heilige Gees is minder as die verwysings na die Vader en die Seun. Daar is altesaam 18 verwysings na die Heilige Gees in Openbaring. Johannes gebruik twee terme om te verwys na die Heilige Gees. Op vier plekke verwys hy na die sewe Geeste voor God se troon, en op 14 plekke na die Gees en sy werk. Die vier verwysings na die sewe Geeste voor God se troon gaan oor die werk van God buite die kerk in die wêreld. Sommige geleerdes wil hê dat die verwysings spesifiek vier is, want vier is Openbaring se simboliese getal van die ganse wêreld. God is nie net beperk tot die kerk nie. Die Gees van God kan nie in die kerk op aarde vasgekeer word nie. Die Heilige Gees werk gewoonlik in en deur die kerk.
Wat doen die Heilige Gees? Die Heilige Gees is die Een wat die werk van die Seun op aarde kom deurvoer. Die gedagte van ’n gestuurde kerk het sy oorsprong in die uitstorting van die Heilige Gees. Die Heilige Gees maak die gestuurde kerk moontlik. Die Heilige Gees kom in ons lewens in en help ons om God se wil uit te leef. Hy vul ons met krag en ywer vir die koninkryk. Hy omvorm ons sodat ons al hoe meer na die beeld van God leef. Deur die krag van die Heilige Gees word ons deel van God se missie hier op aarde.
Ons kan met oortuiging sê dat Openbaring nie vir ons ’n uitgewerkte leerstelling oor die Drie-enige God gee nie, maar die boek leer ons verrassend baie oor God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding