Filippense 4: 4-7
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Daar is altyd dinge in die lewe wat met ons gebeur en waarvan ons graag wil wegkom. So hanteer ons die een na die ander kwessie. Sodra die een afgehandel is, skuif daar net weer ’n ander bekommernis of frustrasie in sy plek.
Die teks praat met ons oor ’n lewe wat nie van omstandighede wegvlug nie, maar waarbinne ons op betekenisvolle maniere kan voortgaan en steeds bly kan wees. Hoe sal ons dit regkry? Hoe absorbeer ’n mens al die emosies en ervaringe wat die vermoë het om ons en ander mense van stryk te bring? Ons word aangemoedig tot ’n daaglikse roetine waar ons al ons bekommernisse en uitdagings in gebed na die Here bring. Elke keer as ons dit doen, word ons deur God herinner aan groter realiteite en maniere waarop Hy ons in staat stel om situasies te hanteer. Wees bly is dus nie ’n nou-en-dan-ervaring as alles goed verloop nie. Dit is deel van die alledaagse lewe waartoe die Here ons in staat stel.
Gebed
Here, dankie vir hierdie oomblik waarin ek te midde van die spanning, hartseer, bekommernis en frustrasies in my lewe, by U vrede kan vind. Daar is so baie dinge wat my pla en wat ek vandag voor U kom lê. Ek leef in die vertroue dat U nie net in hierdie oomblik by my is nie, maar wanneer ek ná hierdie gebed my oë oopmaak, U my ook in hierdie dag sal vergesel. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos