Lukas 6: 36

In Lukas 6: 36 roep Jesus die mens op om barmhartig te wees soos God barmhartig is. Die 1933-, 1983-, en 2020-vertaling vertaal die Griekse woord oiktirô met om barmhartig te wees. Hierdie druk nie presies die betekenis van die Grieks uit nie. In Engels kan dit vertaal word as compassionate en dus sou ’n alternatiewe vertaling medelydend of deernisvol gewees het. Dus, het deernis met mekaar, soos wat God met julle deernis het. Hierdie is ’n uiters belangrike en noodsaaklike oproep en waarde om in die lewe vandag na te streef. Die lewe is moeilik. Daar is pyn en druk van alle kante – rou, angs, mislukking, eensaamheid. Die meeste van ons dra stille swaar laste wat niemand raaksien nie. Ons maak foute, ons raak kwaad. Wanneer ons na ander kyk, vergeet ons dikwels dat húlle ook sukkel. Agter selfvertroue, sukses, ’n glimlag, selfs woede, is daar dikwels iemand wat net probeer oorleef. Soms kom dit in die vorm van mediese diagnosis, ander kere probleme by die werk, en nog ander kere psigologiese probleme. Hierdie is dinge wat ons nie altyd raaksien nie, nie altyd van bewus is nie. Maar dit is juis om hierdie rede dat hierdie oproep van Jesus so belangrik is. As ons leef met die besef dat die persoon wat ek raakloop op die straat, in die winkel, by die werk ook soos ek menslik en feilbaar is dan raak dit makliker om deernis met mekaar te hê. Hierdie tipe deernis is nie die sagte soort wat pyn ignoreer nie, maar die rou, eerlike soort wat ’n mens se foute sien en tog kies om liefde te wys. Dit is ’n radikale vorm van liefde, van aanvaarding, van deernis. Die soort wat weet mense kan selfsugtig, ongeskik en gebroke wees – en tog sê: Jy is steeds die moeite werd, ek het deernis (compassion) vir jou. Dit is die tipe deernis wat God aan ons geopenbaar het in Jesus. Dit is die tipe deernis wat Jesus met mense gehad het. En dit is die deernis wat ons na geroep word.

O God, mag ek vandag deernis hê soos wat U deernis met my het.

Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria