Matteus 8: 5-13 (AFR2020)

God werk nie net in Suid-Afrika nie. Gister het ons gesien selfs in Aram een van Israel se aartsvyande gebruik Hy ’n Israelitiese dogter. Matteus vertel weer vandag van Jesus wat in Kapernaum besig was. Daar is eintlik drie verhale waar Jesus besig is met mense wat nie in die destydse Joodse samelewing gereken is nie. Iemand wat melaats is, ’n nie-Jood en ’n vrou.

Hier in Kapernaum is die hoofman oor honderd bekommerd oor sy slaaf wat verlam is en baie pyn beleef. Hy gaan deel sy kommer met Jesus. Weereens tree Jesus anders as verwag op. Hy onderneem om na die offisier se huis te gaan om die slaaf te genees. Soveel reaksie het die hoofman nie verwag nie. Matteus vertel dan hoe verwonderd Jesus was oor hierdie nie-Jood se geloof versus die gebrek aan geloof by die Jode. By niemand in Israel het Ek so ’n groot geloof gevind nie.

Jesus het baie mense gesond gemaak. Die erbarming waarmee Jesus God se genesing na mense toe bring. Hierdie genesing om iemand gesond te maak, maar ook heling en herstel van verhoudings. God se liefde het geen grense nie. Maar wat maak ons met daardie liefde wat ons beleef en uitleef? Mag die geloof wat ons bely sigbaar wees in ons woorde en dae. In ons gesindheid jeens alle mense. Sigbaar in ons omgee en barmhartigheid teenoor mekaar en ander, ook hulle wat nie noodwendig soos ons lyk, dink en glo nie.

Gebed

U hulp, u liefde onbegrens laat my van vreugde juig;

U deernis met ’n dwase mens laat my eerbiedig buig.

Genade so oneindig wyd –

U skenk dit weer en weer.

Dit is die hoogste heerlikheid dat u my liefhet, Heer (Gesang 506: 2 en 3).

Ds Kathleen Smith, Kaapstad