Psalm 19: 15

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees. Om aanneemlik te wees, is ’n tegniese term wat verwys na dit wat gekwalifiseer het om as offer te dien in die tempel. Diere wat geoffer is, moes sonder enige liggaamlike tekortkoming wees (Lev 22: 19). Hierin skuil egter ’n geweldige verskil tussen dit wat in die Ou Testament (Ou Verbond) en dit wat in die Nuwe Testament (Nuwe Verbond onder Christus) as aanneemlik beskou is. Die offergawes sonder liggaamsgebrek wat gebring word, is inherent vir God aanneemlik omdat daar geen tekortkoming is nie. In die Nuwe Testament verstaan ons dat geen persoon inherent enigiets het wat aanneemlik vir God is nie. Paulus sê in Efesiërs 2: 8: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Niks kan ons kwalifiseer voor God nie. En om dit van toepassing te maak op ons gesprek dié week: Alle kennis van God is alleenlik self-openbaring. God wat kies om iets van Homself vir ons te wys. Ons kan gedeeltelik tot kennis van God kom deur die natuur. Ons sondige natuur moet egter versoen word met God deur Christus se kruisdood. Daarsonder kan ons nooit tot die reddende kennis van Christus, soos dit geopenbaar word in die Woord, kom nie.

Al wat ons kan kwalifiseer, of liewer al Wie ons kan kwalifiseer voor God, is Christus. Christus, deur sy soenoffer, maak ons harte ryp om deurdring te word deur God se Woord. Christus was ons sondes af deur sy bloed, daarom kan ons net in dankbaarheid antwoord en ons lewens wy aan die Here soos wat Paulus ons aanmoedig: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Rom 12: 1).

Ds Willem Dreyer, Groot Marico