Matteus 6: 16-18

Hier is ’n belaglike gedagte vir ’n Saterdagoggend: Het jy al gewonder wat die kassier by jou naaste kruidenierswinkel dink wanneer jy ’n vreemde kombinasie van items koop. Ek wonder soms self daaroor. Een van die vreemdste kombinasies wat ek al moes optel is gevriesde hoenderrepies en toiletpapier. Net daardie twee items waarvan die laasgenoemde eintlik nie eers beplan was nie, maar in die mandjie moes kom nadat my vrou my in die winkel via oproep ingelig het dat toiletpapier in die huis gevaarlik skaars raak. My eerste gedagte: Die kassier wonder seker of ek werklik hulle vrieskaste vertrou. So laf soos wat hierdie kan wees wonder ek hoeveel van ons geloofsuitlewing word gekniehalter deur wat ons verwag ander dink.

Die teksgedeelte daag mense uit wat hul geloofspraktyke so publiek probeer maak, maar wat nie werklik vanuit eie oortuiging daaraan deel neem nie. Die vermaning sou dan wees dat ons nie moet kerk toe kom of betrokke wees by uitreike sodat ons deur ander gesien word nie.

Hierdie teksgedeelte beklemtoon ’n baie belangrike beginsel, naamlik dat geloof soms meer kan gaan oor wat ander dink en sal sê as wat dit ’n opregte saak word tussen my en God. Met hierdie beginsel kan die saak in die ander rigting ook beredeneer word.

Hoeveel keer het ek en jy nie al opgetree omdat te veel mense gekyk het of geluister het nie? Nie hoop gespreek het oor ’n land wat dalk gebroke is nie, maar ons dien tog ’n God groter as dit. Nie op die plek gebid het vir iemand wat ons weet dit werklik nodig gehad het nie, want ons was onseker oor wat hierdie persoon of ander sal dink.

Hoeveel van jou eerlike geloofuitlewing ly onder wat ander kan dink eerder as ’n opregte saak tussen jou en God?

Ds Thomas Dreyer, Malelane