Handelinge 10: 34-48
Taal word beskou as die belangrikste kenmerk van die mens en sy bestaansgang. Ons ganse bestaan met sy instellings word aan die hand van taal ingerig, of dit nou skoolonderrig, die kerklike verkondiging of die staat se wette en prosesse is. Taal is egter nie net ’n middel waardeur die mens die lewe orden of ons verstaanbaar maak nie. Taal is deel van ons identiteit, ’n waarmerk van ons menswees. Al ons ervarings klink in taal.
Dit verbaas nie dat die gawe van die Heilige Gees in Handelinge 2 gepaard gaan met kosmiese verskynsels soos wind, vuur en taal. In Handelinge 10 praat Petrus met Cornelius, die bevelvoerder van die Italiaanse afdeling van die Romeinse mag, en sy gesin. Petrus se gedagtes en woorde is nog Joods gerig, en dan blyk die verbasing wanneer die Heilige Gees ook aan nie-Jode geskenk word.
Ook hier, soos in Jerusalem, word die groot dade van God verkondig. Petrus beklemtoon die ooreenkoms wanneer hy benadruk dat hulle soos ons die Heilige Gees ontvang.
Die gawe van die Heilige Gees is herkenbaar in taal en deur taal. Juis deur taal kry die Heilige Gees as gawe en belofte gestalte. Trouens, deur die Heilige Gees kry taal ’n nuwe doel. Dit is nie net meer ’n middel en instrument om ons lewe en werklikheid te beskryf en te orden nie. Dit word ’n werktuig waardeur God se dade verkondig word. Omdat God se Woord deur sy Gees in ons monde klink, hervorm dit ons menswees, ons lewe.
Taal kan nou ook dien om te onderskei tussen dit wat uit God is en dit wat deur die sonde verdraai word, Dit reik verder as net die beskrywing van die lewe. Dit roep God se Woord uit. Dit is hierdie Woord wat deur die Heilige Gees ook in Afrikaans weerklink en vergifnis en versoening aankondig wat ons verseker van die onderpand, die Gees as gawe van die toekoms.
Gesang 437
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege