Hebreërs 4: 11-13 (AFR2020)

Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord (Heb 4: 11-13).

Heer, wanneer ek u stem vandag hoor, laat ek nie my hart verhard nie. Ek rig bewustelik my aandag op wat ek ten diepste ervaar. Hier in die diepte van my bestaan, my wese, word ek baie bewus van God se nabyheid. God sien dwarsdeur my, maar Hy kyk nie verby my nie. Ek beywer my om vandag in my diepste wese die openheid, die oneindige oorvloed van rus in God se teenwoordigheid tyd te spandeer. Hier, teenoor my God, word my swaar gevoelens van die hart sag en die dobberende gedagtes my denke stil. Ek ervaar hier God se (liefde in) oorvloed, en dit maak my stil.

My voorneme om te ervaar is om bewustelik ten diepste teenoor God in rus te wees. Dit is hier waar ek ervaar wat soms van die merk af is. Dit is hier waar ek myself verantwoord teenoor God vir Wie alles van my oop en bloot voor sy oë is. Die deernis wat in my hart leef. Die kreatiwiteit van my wete.

My voorneme om vandag só te ervaar, bring vir my versekering dat ek nie in ’n patroon van ongehoorsaamheid val nie. My Here gee vir my die moed en die krag om vandag in sy weë te wandel.

Gebed

Here, my God, laat U vrede wat my verstand te bowe gaan vandag oor my hart en gedagtes wag hou in Jesus Christus. Laat my met moed en deernis en kreatiwiteit voluit in hierdie dag lewe.

Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone