Jesaja 35: 1-10
Jesaja 35 voel so uit plek uit hier waar Jesaja 34 nog praat van die vernietiging van Edom. Dis die werklikheid van mense wat God verwerp en geen agting of aanbidding vir Hom het nie. Soos voorheen in Jesaja, is God se oordeel nie die laaste woorde wat God teenoor die mens praat nie. Die oordeel is altyd in diens van God se redding. Want redding en verlossing is altyd God se doel met ons. Hoofstuk 35 vertel in die mooiste beelde en taal hoe God wil herstel. Dit beskryf die vreugde as God red en herstel. Selfs die natuur jubel as die Here sy genade bewys, en alles blom onder sy sorg.
Vir Juda beteken dit dat daar altyd hoop is. Jesaja praat voortydig en amper uit sy beurt oor hoop. Dit wat sy mense om hulle sien en hoor, stem nie ooreen met wat hy vir hulle sê nie. Hoe kan hy met hulle oor hoop praat as hulle net vernietiging en ellende sien gebeur?
Ons sien gereeld die ellende, die onreg en die gemors om ons op die nuus en in ons eie kringe raak. Dan is daar nog die dinge wat in ons eie lewens gebeur: terwyl jy in die wagkamer van ’n dokter sit en wag vir uitslae; terwyl jy slegte nuus moet verwerk; terwyl die verswakte ekonomie ons almal in ’n wurggreep het; terwyl jy bid dat familie en vriende veilig sal wees… Dis die prentjie van ons lewens wat dalk is soos in Jesaja se tyd. Hoe kan jy oor hoop praat, hoe kan ek nog hoop hê as dit al is wat ek sien en beleef?
God is gereed om te herstel, om nuwe lewe en vreugde te bring. Laat toe dat die Heilige Gees sy hoop in jou lewe influister. Raak stil en luister en jy sal dit hoor. Glo dat dit nooit té vroeg of té laat is om te hoop en vas te hou aan God se genade nie.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei