Johannes 19: 23-30
Dit is vir gelowiges in die algemeen moeilik om aan Jesus Christus wat God is ook as mens te dink. Die skrywers van die vier evangelies verwys plek-plek baie duidelik na Jesus Christus se menslikheid. Op sommige plekke word die lewe en werk van Jesus Christus so beskryf dat ons die gesig van sy menslikheid kan sien. En in daardie menslike gesig kan ons vir God beter sien.
Hoekom is hierdie drie woorde van Jesus, Ek is dors (Joh 19: 28), so besonders? Want dit is anders as al die ander woorde wat Hy aan die kruis geuiter het. Die woorde, Ek is dors, is woorde wat nie iets vir ander belowe nie, dit is nie woorde wat ander gerusstel nie. Dit is persoonlike woorde, ’n roukreet, woorde van behoefte, woorde wat ons terugruk tot die besef: die Woord het regtig vlees geword.
Woorde waarin Christus sê: Onthou dat Ek ook mens was. Daarom weet Ek… sê God: Ek weet van menslike lyding – jou lyding. Ek weet van menslike bekommernis – jou bekommernis. Ek weet van menslike tekortkominge – jou tekortkominge. Ek weet van hartseer, verlies, verlange – jou hartseer, verlies, verlange. Ons Verlosser weet al hierdie dinge self: Ek is dors…
God ken ons dors… God weet dat ons as mense in sonde gebore en ontvang is en dat niks anders ons veel dieper geestelike dors sou kon les as om sy eie Seun self mens te laat word om deelagtig te wees aan die dors van die mens se dag-tot-dag bestaan nie.
Soveel só dat Christus aan die kruis moes hang om ons geestelike dors vir goed te les. Soveel so dat Christus wat sê: Ek is dors, op sy laaste oomblik van lewe as mens nie gegun was om sy dors met water te les nie, maar suur wyn is aan Hom gegee – asyn. Alles sodat ons deel kan hê van die Lewende Water.
Op Stil Saterdag sien ons dat die woorde Ek is dors eintlik ’n kreet van oorwinning vir die mens is – van die Lewende Water is.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam