Matteus 1: 18-25

Advent is ’n vreemde tyd van die jaar. Daar heers ’n stukkie opgewondenheid, maar tog ook angs oor die jaar wat aan die uitloop is.

Wanneer ons terugdink aan die geboorteverhaal, staan die belofte van “Immanuel God met ons” kop en skouers uit. God is met ons, as ons terugkyk sien ons Hom telkens in die hartseer en vreugdes van ons lewens. Hy is nou met ons in die hede en ons leef vanuit sy genade vir ons, en as ons vorentoe kyk, sien ons Hom reeds daar ook. Ons sien uit na die koms van Christus, nie net die herdenking van Kersfees nie, maar ook sy wederkoms. Hy het beloof Hy kom weer. Dit is ons toekomsverwagting.

Advent handel met ons vanuit die verlede die toekoms in. Dit skep weer nuwe hoop, nuwe verwagtinge, nuwe vreugde. Vanuit ons hede kyk ons terug na die vervulling van ’n profesie, wat gemaak is deur Jesaja, seker 700 jaar voor Matteus die gebeure vir ons vaspen. Jesaja het toe al geprofeteer oor die koms van die Messias. God met ons, “Immanuel”. Immanuel is nie ’n eienaam vir Jesus nie, maar eerder ’n beskrywing van wie Jesus is. God kom in die gestalte van sy Seun Jesus na die aarde toe. Hy is die verpersoonliking van God self. God wat deur sy Seun vir ons vanuit die verlede kom wys hoe ware liefde lyk. Wat vir ons kom vertel hoe ons behoort te leef, dat ons opnuut vrygespreek kan word en sy kinders genoem kan word. Om vorentoe te kyk na dit wat vir ons wag, moet ons eers terugdink en besef God is waarlik met ons, Ja, vandag nog.

As ek dan vorentoe kyk, sien ek hoop vir die toekoms. Dan sien ek daarna uit om eendag ook saam met God in sy koninkryk te mag wees. Dan skep ek moed vir my tyd hier op aarde, dat ek voluit in blydskap en vreugde kan leef, want God is met ons!

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos