Matteus 18: 21-35

Ek is seker ons elkeen was al in ’n situasie waar ons so kwaad was vir iemand dat dit gevoel het of ons hulle nooit sal kan vergewe nie. En tog as gelowiges word daar van ons verwag om te vergewe. Maar vergifnis is nie maklik nie.

Die verhaal van Gary Ridgway, die Green River Killer wat in 2003 skuldig gepleit het aan 48 moorde is kragtig. Gary het emosieloos gebly terwyl familielede van die slagoffers hul woede en haat in die hof uitgespreek het. Tot Robert Rule, die pa van een van die slagoffers, uiteindelik vir hom sê: Ek vergewe jou. Gary het in trane uitgebars en dit was asof ’n mens die berou in sy oë kon sien. In ’n kamer vol seerkry en haat laat hierdie pa liefde die laaste sê kry.

Vergifnis is nie maklik nie. Die pyn en bitterheid moes vir hierdie pa ondraaglik gewees het. Maar bitterheid is soos gif – dit maak jóú siek. As ons nie vergewe nie, begin dit ons hele lewe oorneem. Robert het nie toegelaat dat bitterheid sy lewe beheer nie. Hy het plek gemaak vir God se liefde. En daardie liefde het ’n moordenaar laat huil.

Jesus leer ons in Matteus 18 om nie net drie of selfs sewe keer te vergewe nie, maar sewentig maal sewe keer. Christus bedoel hiermee dat ons moet aanhou vergewe – sonder telling. Om nie te vergewe nie, is om jou eie hart in ’n tronk van haat en wraak toe te sluit. Ons moet ook onthou dat God ons vergifnis skenk – en daarom moet ons ander vergewe. Soos Gesang 267:3b dit stel: …soos wat U ook van ons vereis om so U liefde te bewys.

Om te vergewe is moeilik. Dis ’n emosionele en lang proses. Maar dit is ook deel van die genesingsproses. Ons moet leer om plek te maak vir liefde – vir God se liefde, om te bid vir onsself én vir die persoon wat ons seergemaak het en die res in God se hande te los.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies