1 Korintiërs 13: 1-13; Matteus 22: 34-40

Min dinge in hierdie lewe het ewigheidswaarde. Paulus herinner ons daaraan dat daar wel drie dinge is wat ewigheidswaarde het: geloof, hoop en liefde, en dat die grootste hiervan die liefde is. Die liefde is geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie, praat nie groot nie. Die liefde is nie verwaand nie, dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Die liefde verbly hom nie oor die onreg nie, verheug hom in die waarheid. Die liefde bedek alles, glo alles, verdra alles.

Om dié manier van liefhê te ervaar, is hemels, maar om dié manier van liefhê uit te leef, is nie maklik nie. Om ons vyande, ons vervolgers, ons broers en susters wat ons te na gekom het, lief te hê, is moeilik, en dit voel soms onmoontlik om dit uit te leef. Die teendeel is eerder waar: Mense is vol haat en verwyt, mense verheug hulle oor die onreg, hulle hou dikwels boek van die kwaad.

Gelukkig het ons die Gees van God wat in ons woon. Die Gees lei en bemagtig ons om lief te hê soos wat God ons lief het. Die Heilige Gees herinner ons daaraan dat God ons eerste liefgehad het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun na die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom die ewige lewe kan hê. Hierdie liefde laat ons geborge voel. Ons weet vir seker dat God se liefde ons in tyd en ewigheid nie sal verlaat nie. Ons weet vir seker dit is op grond van sy liefde dat ons ’n vergeefde verlede het en ’n hoopvolle toekoms.

Die nuwe gebod wat Jesus gee om mekaar lief te hê soos wat Hy ons lief het, word dan ’n voorreg wat ons nie kan nalaat nie. Die onmoontlike word ’n moontlikheid. In die woorde van Gesang 334: 3: Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde – wat volmaak is – dryf die vrees en selfsug uit.

Ds Mariët Robbertze, Kempten