Openbaring 1: 4-8
Mense kry wêreldwyd swaar. Mense wil moed verloor. Sommige dink God is afwesig, want waar is Jesus as hulle Hom nodig het? So is daar talle mense vandag wat gewoonweg nie meer in Jesus Christus en sy wederkoms glo nie.
Die gelowiges kry swaar onder die Romeine. God wil sy kinders troos en bemoedig. Die toekoms is in sy hande. Rome moet dit hoor; so ook enige mag of gesag in vandag se wêreld. Daarom moes Johannes die gesig wat hy op Patmos gesien het, opskryf en aan die sewe gemeentes in Klein-Asië stuur.
Die vraag vandag is: Is dit moontlik om in ’n moderne, selfs postmoderne, samelewing in die geloof te volhard? Sal Jesus werklik weer kom? Is alles nie slegs ’n mite nie?
God onthul aan Johannes wat sal gebeur. Die wolke dui die heerlikheid en die verskrikkinge van die wederkoms van die Seun van die Mens aan. Elke oog sal Hom sien. Sy wederkoms sal ’n dag van groot blydskap vir sy volgelinge wees, maar ook ’n dag van rouklaag vir die ongelowiges. Die woorde Kyk, Hy kom met die wolke is eintlik ’n opsomming van die hele boek.
Die verheerlikte Christus is egter ook by my en jou, sy kerk, teenwoordig. Hy is immers die Eersgeborene uit die dood. Hy heers oor die konings van die aarde. Hy is die Begin en die Einde. Daar is egter nie ’n kontrolelys vir die tekens van die tye nie. Veel eerder moet ons as Jesus-volgelinge glo dat Hy wat op die troon sit, God is wat eendag weer sal kom en sal kom haal dié wat in Hom glo. Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Die Immanuel!
Gebed
Here, ek wil aan U dink, U ken, U liefhê. Laat u Woord in my groei totdat U my volmaak verander het en ek leef soos Jesus van my verwag. Amen. (Augustinus)
Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB