Ek worstel deesdae met dié kwessie: Word ons progressief dommer?

En nee, ek praat nie van minder geleerd, met minder kwalifikasies, ’n onvermoë om wiskundige of natuurwetenskaplike feite te snap nie. Daarvoor ag ek die geesteswetenskappe en gepaardgaande vermoëns eenvoudig te hoog.

Soveel hoofde, soveel sinne. En dis reg so. Dis waarom spanwerk so effektief is: Met meer menings en perspektiewe kom ons uiteindelik by beter besluite uit. Dit is nag as gedans moet word rondom die mening of besluit of wil van ’n enkele persoon wat glo dat hy of sy altyd reg is…

So gaan soek ek toe weer die werke van NP van Wyk Louw op my rakke. Ek hou van sy uiteensetting in Deurskouende verband (1977) van wat ’n intellektueel is: …die ware intellektueel (is) iemand wat dit vir hom tot lewensreël gemaak het: om by elke saak redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel, en die eie mening met ’n bietjie nederige selfkritiek te beskou.

Weer eens, dit het nie veel met “geleerdheid” te doen nie. Van Wyk Louw verduidelik: En nou is óns tyd juis so (of was alle tye maar so?) dat ’n man hooggeleerd kan wees en tog bevooroordeeld soos ’n fanatikus, gretig om te oordeel en te veroordeel, en rotsvas oortuig dat die eie mening oor elke saak altyd volledig en die juiste is. (En hierdie soort man word deur ons soms “ ’n kragtige persoonlikheid” genoem.)

En: En hoe kry ons nie tóg weer soms onder mense met min boekgeleerdheid juis daardie intellektuele deugde van redelikheid, van onbevooroordeede ondersoek en selfkritiek!

Van Wyk Louw se uitsprake uit ’n skrywe van 17 Maart 1961. Wat sou hy vandag sê oor al die baie menings en kommentare wat die kuberruimte vol vlieg?

Voorheen het baie mense nog ’n rukkie lank gedink en oorweeg en heroorweeg voordat hulle iets kwytgeraak het, maar vandag kan elkeen sy sê hard en duidelik die wêreld deur laat hoor. En nie eens die gevaar van vervolging maak hulle versigtig nie.

Wat mense voorheen om die braaivleisvuur, bier in die hand, kwytgeraak het, word nou enige tyd en herhaaldelik op enige plek en in enige geselskap in ’n stortvloed uitgespoeg. En enigeen in die geselskap wat anders voel, moet maar net koes en verkieslik stilbly, om ’n verdere vitrioelstorm te ontduik. En dít hou dié met verbale diarree net nog meer aan die gang.

Gaan dit oor onnoselheid? Deels dalk wel, maar waarskynlik eerder oor voortvarendheid en ondeurdagtheid. Geen logiese en versigtige denke nie, net verkondig wat by jou opkom, sonder respek vir iets of iemand.

Vra Van Wyk Louw toe: Moet die intellektueel noodwendig baie intelligent wees? En hy antwoord self: Ek weet nie. Intelligensie sal seker nuttig wees, sal hom help om meer feite vás te vat en wyer verbande tussen feite te lê. Ons is almal bekend daarmee dat die onkundige meestal die sterkste oortuig is van sy mening se juisheid, en sekerlik meestal die hardste praat. Ja, intelligensie sal seker help.

Maar dan weer: Maar ons weet ook: die intelligensie kan oorslaan tot slimmigheid. En slimmigheid is die Satan in die ryk van die dink: die slimmigheid wat met slinterslae die rein waarheid tot iets anders omstook.

Ek glo dat daar ook eenvoudiges van gees is wat juis deur hulle nederigheid, hulle kennis van eie onvolkomenheid, nader aan die werklike intellektueel staan as wat die “slim man” ooit wil staan.

Miskien – al klink dit na ’n paradoks – miskien is: om ’n intellektueel te wees, eerder ’n morele as ’n suiwer-intellektuele lewenshouding.

En terwyl ons oor morele sake praat, die beskouing in Rapport-Weekliks van 25 Augustus 2019 van dr Jeanette de Klerk-Luttig van die Universiteit van Stellenbosch: Ouers bly die primêre opvoeders van hul kinders en die gesin die primêre ruimte waar waardes gevestig en karakter gebou behoort word. Dit is die ruimte waar kinders aanvaarding, geborgenheid en grense moet beleef. Dit is in hul huise waar hulle moet leer om mekaar en hul ouers te respekteer, om beurte te maak, om te deel en te help en waar basiese goeie maniere vasgelê behoort te word.

af
af
Deel met behulp van
Copy link