Elke jaar rondom Oktober begin die beplanning en voorbereiding vir die jaarlikse Kerssangdiens. Een van die hoogtepunte van die jaar, want met die Kerssangdiens kondig ons aan: Kerstyd het begin.

Elke jaar word dit moeiliker om liedere te kies, en so in my soektog na ’n nuwe lied of twee vind ek VONKK 273 met hierdie woorde:

Sing ’n nuwe Kerslied,
sing ’n nuwe lied
oor die grootste vreugde
ons ooit aangebied.
Sing ’n nuwe lied
om Jesus te ontvang.
Sing ’n nuwe Kerslied,
sing ’n nuwe lied.

Vroeg een helder môre
sien ek, soos ’n droom,
voor my kamervenster
God se lenteboom –
in die boom een enkel
bloedrooi lenteblom.
Sing ’n nuwe Kerslied;
sing ’n nuwe lied.

Hoe het toe my hart met
God se vuur gegloei.
U het soos die bloeisel
tussen ons gebloei –
ongekende skoonheid,
helderheid en lig!
Sing ’n nuwe Kerslied;
sing ’n nuwe lied.

Josef en Maria,
herders en die ster
en die wyse manne –
hulle kom van ver.
Almal ken dié storie,
almal hou dit vas.
Sing ’n nuwe Kerslied;
sing ’n nuwe lied.

Niemand het tevore,
niemand het daarna
ooit soveel gegee of
ooit so min gevra.
Stort jou hele hart uit,
gee jou hele self!
Sing ’n nuwe Kerslied;
sing ’n nuwe lied.

En dit is hierdie gedagte van ’n nuwe lied sing wat aan my siel kom werk, wat in my kop bly maal. Musiek is so deel van ons lewe. Dit het die vermoë om mense nader aan mekaar te bring of weg te stoot.

Regdeur die Bybel vind ons liedere. Daar is Bybelboeke wat basies net uit liedere bestaan. Ons lees hoe lewensgebeurtenisse mense diep raak en hulle dit as ’n lied na God toe bring. Soms ’n treurlied, dalk ’n klaaglied, en natuurlik lofliedere. So het die aankondiging van Christus se geboorte ook liedere na vore laat kom: die loflied van Maria, die engelekoor, en natuurlik die menigte bekende Kersliedere wat deur die eeue geskryf is.

Elke deel van die verhaal maak in ons ’n lied los. Herders in ’n veld deur engele omring, wyses op hul kamele op pad na ’n onbekende koning, ’n stal met ’n baba rustig in ‘n krip. Liedere wat die verhaal vertel, wat ons fassinasie weergee, wat iets wil sê van hoe hierdie gebeure ons lewe steeds verander elke jaar. So ontstaan daar nuwe liedere, nuwe maniere van God loof vir die reddingsdaad, vir God se mensword tussen ons. Bring ons op nuwe maniere ons vreugde na God toe. Ons sing hierdie Kersliedere dalk net vir ’n kort tydjie elke jaar, maar as die inleiding van Stille Nag begin speel, dan is die woorde daar.

Hierdie jaar gaan ons al in die Adventtyd, afwagtend, sangdienste hou, saam met die radio in die winkels neurie, liggies koop en geskenke wegsteek. Maar ook gaan ons dink aan geliefdes wat nie aan die Kerstafel gaan sit of ’n geskenkie gaan koop nie. So skryf ons elkeen elke dag aan ons Kerslied, vrolike lofgedeeltes, nostalgiese terugdinkverse en treurliedere van verlange.

Ons Kersliedere, elkedagliedere, is ’n antwoord op God se liefdesliedere wat ons daagliks ontvang. ’n Nuwe een elke dag, uniek vir jou. Vir sy volk in ballingskap het God liedere van hoop gesing, vol beloftes van ’n V(v)erlosser. Vir ’n jong meisie, Maria, ’n lied waarin God haar verseker van haar plek in die wêreld, waarmee sy hoor dat sy, onsigbaar in die samelewing, tog raakgesien word en vir die belangrikste taak uitverkies is. Vir sondaars, langs die pad, liedere wat insluit, wat vergewe. En vir treurende vroue by die kruis, op soek na hul Verlosser in die graf, die nuwe lied: Hy het opgestaan.

Ons lewe is die lied wat mense om ons hoor, dit is in ons dade en woorde dat mense ons leer ken. Mense hoor egter net die versies wat ons aan hulle openbaar. God hoor ook dit wat jy alleen in jou kamer sing. God ken daardie verse wat vertel van jou mislukkings, jou verlange, jou grootste vrees, en God antwoord weer daarop. So sing God vandag vir jou wat bang is ’n wiegeliedjie: Ek is by jou. Vir jou wat treur, ’n trooslied: Ek verstaan, want my Seun het ook gesterf. Vir jou wat alleen is, dalk ook in die Kerstyd, ’n lied wat insluit: Jy is my kind en Ek het jou lief. So sing God saam jou lofliedere, dankliedere, partytjieliedere wanneer dit goed gaan en jy jou seëninge tel.

Begin vandag skryf aan jou eie, nuwe Kerslied. ’n Antwoord op die grootste liefdeslied van God: Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Luk 2: 10-11). En as jy sukkel met woorde, gaan soek net in die Liedboek en flans een aanmekaar (uittreksels uit Gesange 321, 344, 464, 348, 351, 332):

U het gekom Immanuel,
helder klink dit met Kersfeestyd.
U seun word mens,
uit liefde aan mense gelyk.

Hy vervul ons diepste wense,
kyk wat Hy vir ons kom doen,
wat van sondaars kinders maak
en in harde menseharte
deernis en geloof kan wek.

Kom ons doen dit hierdie jaar nie net met woorde nie, maar ook met dade. Kom ons deel ons Kersliedere met mekaar deur glimlagte, hande wat uitreik en liefde onbeperk vir elkeen wat jou pad kruis.

Geseënde Kersfees! Mag elkeen in die Kerstyd ’n duet saam met God sing.

(Ds Lilian Erasmus is leraar in Gemeente Wonderboom)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap