Dit is noodsaaklik om voortdurend oor die stand van die ekologiese krisis te berig. Dit is nou pas 50 jaar sedert die Club of Rome gestig is en sy destydse opspraakwekkende eerste publikasie (Limits to Growth) in 1972 verskyn het. Dit was, ironies genoeg, ook twee eeue na Thomas Malthus sy geskrif, An Essay on the Principle of Population (1798), uitgegee het en waarin hy voorspel het dat die bevolkingsaanwas die ekonomie so sou verlam dat maatskaplike ellende toenemend die gevolg sou wees.

32 internasionale akademici, navorsers en nyweraars het in April 1968 in ’n villa buite Rome, onder leiding van die Italiaanse nyweraar Aurelio Peccei en die Skotse wetenskaplike Alexander King, die sogenaamde Club of Rome gestig. Die Volkswagen Foundation (Duitsland) het dit geborg. Hulle het toe die volgende oogmerke daargestel:

  • Navorsing oor die kwanti­tatiewe en kwalitatiewe same­hang van globale eko-uitdagings.
  • Om die wêreld op die ekologiese krisis bedag te maak.
  • Om regerings en nyweraars aan te moedig om die krisis af te weer.

Die Club of Rome se eerste publikasie het wyd opslae gemaak. 30 miljoen kopieë is verkoop en dit is in 37 verskillende tale wêreldwyd vertaal. Dit het as basis die eerste 70 jaar van die vorige eeu geneem en bepaalde scenario’s vir die toekoms uitgestippel. Die gedagte van ontwikkeling (sedert die Renaissance) het met hul ondersoek geblyk ’n illusie te wees en dat vooruitgang noodwendig ook agteruitgang ingehou het.

Die gevolgtrekking van die ondersoek was dat die kwaliteit van lewe radikaal sou versleg binne die volgende aantal dekades. ’n Tydraamwerk van so min as 50 jaar is selfs voorsien. Dit sou ook nie net ’n geleidelike afname inhou nie, maar kon selfs ’n skielike en onbeheerbare draaipunt tot gevolg hê. Daar is ook verwys na die sogenaamde “grusame kurwe” wanneer die vraag- en die aanbodkrommes van die grafiek mekaar sou kruis en die behoeftes van die mensdom eenvoudig nie deur planeet aarde verskaf kan word nie. Om dit in tegniese taal uit te druk: Die ekologiese voetspoor oorskry dan die produktiewe kapasiteit van die biosfeer.

Die oliekrisis van 1973 het die aktualiteit en erns van hierdie waarskuwing met ’n skok onder almal se aandag gebring. In 1974 gee die Club of Rome gevolglik ’n tweede publikasie uit: Mankind at the Turning Point. Hierdie publikasie het ’n ietwat positiewer gees geadem omdat dit wel geoordeel het dat die mens nog in beheer van die natuur was en inderdaad iets kán doen aan die omgewing en die bewaring daarvan.

Die outeurs van die eerste publikasies van die Club of Rome, Donella en Dennis Meadows en Jorgen Randers, het in 1992 ’n opdatering gedoen en hul nuwe boek toe Beyond the Limits genoem. Hierin het hulle aangetoon dat die mens in baie opsigte die wasdomgrense totaal oorskry het, en die uitdaging het toe eerder volhoubare ontwikkeling geword. Dit is tien jaar later opgevolg met ’n spitsberaad in Johannesburg, wat ’n verdere sombere prentjie geskilder het.

’n Derde opdatering het in 2004 gevolg met die publikasie Limits to Growth: The 30-Year Update. Die rekenaarprogram wat die ekstrapolasies doen, is toe aansienlik verfyn en die World3-91-program gedoop. Die gevolgtrekking was verdoemend en helaas baie meer pessimisties as voorheen. Waar in 1972 nog gesê is slow down, word nou dringend geëis: get back down. Die outeurs het tot die gevolgtrekking gekom dat die begrip “volhoubare ontwikkeling” uitgedien was. Die sleutelwoord het toe oorlewingsgedrag geword.

Elize Tempelhoff skryf in Beeld (29 Julie 2019) dat Suid-Afrika reeds op die gemelde datum die jaar se reserwe-aanbod uitgeput het (Global Footprint Network). Dit staan bekend as “Aarde-oorskrydingsdag”. In effek verbruik ons 1,75 keer meer as wat die planeet se hulpbronne kan voorsien. Die ekologiese voetspoor van die mensdom word hiermee in verhouding tot die dravermoë van die planeet uitgedruk.

’n Nobelpryswenner vir chemie, Paul Crutzen, verwys as gevolg van die mens se katastrofale invloed op die planeet aarde na ’n nuwe geologiese periode wat aangebreek het, naamlik die “antroposeniese tydperk”. Die negatiewe van die nuwe aanpak is dat verstedeliking die omgewing tot nadeel strek, en dat politieke onrus produktiwiteit beperk en groeiende armoede by die armste 2 miljard mense van die planeet aanhelp. Onbeheerbare aardverwarming gaan waarskynlik ook plaasvind. Die lewenswyse van mense toon die volgende prentjie oor 70 jaar gesien.

Die positiewe wat die latere verslae van die Club of Rome uitgewys het, is dat positiewe resultate behaal word met die bestuur van sake soos bewaring van natuurlike hulpbronne en toename in voedselvoorsiening. In plaas van per capita groei van inkomste, word menslike welsyn eerder beklemtoon.

Vandag besef ons dat die bevolkingsaanwas die eintlike probleem is en dat die ander probleme as’t ware die uitdrukking daarvan is. Aan die begin van die 20ste eeu was daar 1,6 miljard mense op die aarde. Aan die einde van daardie eeu was dit 6 miljard. Op die oomblik is dit omtrent 6,6 miljard! Die Verenigde Nasies projekteer ’n syfer van meer as 9 miljard vir die jaar 2050. Hierdie mense moet almal eet, woon, werk en ontspan.

Een van die onrusbarendste gevolge hiervan vir die natuur is die vry­stelling van koolstof in die atmosfeer. Dit lei tot globale verwarming, met ernstige gevolge. Die huidige koolstof-emissie is 385 een­hede per miljoen (epm) en dit styg teen ’n haas onbeheer­bare tempo. Indien die styging tot ’n maksimum van 450 epm beperk kan word, hoop sekere wetenskaplikes dat die globale verwarming onder 2º Celsius gehou kan word. Die ideaal is egter om dit te beperk tot 350 epm oftewel onder 1,5º (Parys Protokol).

Die jaar 2016 was die warmste jaar nog, maar 2019 is slegs ’n kortkop agter, volgens die Daily Maverick (16 Januarie 2020). Aansluitend by die vorige vraag, is dit daarom so te betreur dat pres Trump die VSA se onderskrywing van die Parys Protokol teruggetrek het. ’n Onlangse artikel van prof Francois Durand hieroor, Suid-Afrika en klimaatsverandering – van ontkenning tot wanhoop, is die moeite werd om van kennis te neem (NHN-Nuusbrief 29 Maart 2020). Hy skryf onder meer: Die Suid-Afrikaanse regering maak hulself net so skuldig aan lippetaal as ander regerings. Hulle praat volhoubaarheid, maar doen die teendeel.

’n Spesiale voorlegging oor die krisis van klimaatsverandering (Climate Emergency Plan) is Desember 2018 aan die Europese Parlement voorgelê, waarin die volgende voorstelle gemaak word:

  1. Staak uitbreidings van en subsidies aan fossielbrandstofaktiwiteite teen 2020.
  2. Verdriedubbel subsidies aan vervangbare energiebronne en lae koolstofuitsette teen 2025.
  3. Belas koolstofuitsette sodanig dat die ware koste van fossielbrandstof bepaal kan word teen 2020.
  4. Vervang die Bruto Binnelandse Produk (BBP) as maatstaf vir ontwikkeling van ’n gemeenskap.
  5. Verbeter verkoelingstegnologie.
  6. Bevorder die Parys Protokol se eis van verlaging van koolstofuitset deur nywerhede.
  7. Ontwikkel omgewingsvriendelike materiale wat nie op natuurlike hulpbronne staatmaak nie.
  8. Beloon inisiatiewe van boerderymetodes wat die omgewing bevoordeel.
  9. Beperk menslike aanwas.
  10. Sorg vir ’n billike en regverdige oorgang na ’n alternatiewe leefstyl sodat mense nie werkloos raak of in honger verval nie.

Die hoogtepunt van die skepping is dus nie die mens nie, nie dag ses nie, maar dag sewe, die Sabbat. Hier is God en mens harmonieus saam in die skepping, boonop met ’n oop einde. Ons het in Genesis 1 dus geen wetenskaplike aanbod hoe alles ontstaan het nie, ons het selfs nie eens ’n belydenis dat God geskep het nie (destyds was skepping ’n algemeen aanvaarde feit), maar ons het hier ’n loflied wat die God van Israel as die God van alle tye en plekke prys. Dit gee ’n ewigheidsblik, ja, troos, maar tegelyk ook ’n bepaalde verantwoordelikheid om na die skepping om te sien.

Vandag weet ons dat ons Genesis se skeppingsverhale heeltemal anders moet verstaan as wat Bybelvertalers van vorige eeue gemeen het. Martin Luther het die teks klinies en onverbiddelik vertaal: macht die Erde untertan! Die beginsel van onderwerping word deur huidige vertalers onder andere vervang met die idee van rentmeesterskap.

Die teoloog Calvin B DeWitt het in 1995 die volgende vier prinsipiële uitgangspunte vir ’n ekologiese skeppingsleer daargestel:

  • Die onderhoudingsbeginsel. Soos wat God die skepping onderhou, moet die mens dit ook doen.
  • Die Sabbatsbeginsel. Die skepping moet toegelaat word om te rus na menslike gebruik.
  • Die opbrengsbeginsel. Die mens kan inderdaad die skepping en die vrug daarvan geniet.
  • Die beperkingsbeginsel. Daar is besliste grense aan die mense se betrokkenheid by en benutting van die skepping.

Verlede jaar, met die 50ste herdenking van hul bestaan, het die Club of Rome op drie fokusareas besluit. Dit wil nie alarmisties wees nie, maar eerder die potensiaal van die mensdom tot ontluiking bring. Derhalwe word gefokus op die volgende:

  • Vestiging van nuwe samelewingswaardes.
  • Nuwe verstaan van ekonomie.
  • Bestuur van klimaatverandering.

Die Club of Rome stel dit duidelik dat die 21ste eeu ’n eeu van versobering moet wees. Dit geld op alle terreine. In ’n artikel van prof Anton van Niekerk van Stellenbosch toon hy ook aan dat tevredenheid en sin by mense hoegenaamd nie afhanklik van rykdom is nie. Vreugde onder ’n land se mense is hoegenaamd nie eweredig aan die land se BBP nie! Die ekonoom David Korten bepleit gevolglik ’n “nuwe ekonomie” en skryf: Die eerste fatale fout van ’n selfvernietigende ekonomie is om die waarde van geld hoër te ag as kulturele waardes. Die tweede is om wêreldmarkte bo aktiewe gemeenskappe as die institusionele locus van beheer te beskou.

Die mens is as beeld van God ook “mede-skepper”. Dit gee ons egter groot verantwoordelikheid en dit is elke Christen se taak om hieraan gestalte te gee. Geniet die skepping, maar onthou, dit is nie ons s’n nie. Ons leen dit net van ons nageslag! Ons moet nie net God en ons naaste liefhê soos onsself nie, maar ook die aarde.

In die literatuur oor ’n eko-teologie word dikwels na Franciskus van Assisi verwys wat na aan die aarde gelewe het; die son was sy broer en die maan sy suster. Ek was verstom toe ek onlangs foto’s sien van die kanale in Venesië wat meteens skoon is en dat daar visse in swem! Die rede? Alleen omdat die nywerhede vanweë die Covid-19-produksie (en besoedeling dus) gestaak het. Dieselfde het gebeur met lugbesoedeling oor China. NASA se satellietfoto’s toon ’n ongelooflik skoner lug oor China omdat die aktiwiteite van nywerhede so drasties ingekort is.

Kan dit wees dat die Covid-19 ons hard terugbring aarde toe?

*** Vir ’n volledige uiteensetting van skepping en ekologie, kan twee onlangse artikels van prof Buitendag aanlyn op LitNet gelees word:

“Jy moet die aarde liefhê soos jouself”

en

Die Klub van Rome (“Club of Rome”) se soeke na planetariese welsyn beskou deur die oë van ’n Gereformeerde teoloog

(Prof Johan Buitendag is emerituspredikant van die NHKA en voormalige dekaan van UP se Fakulteit Teologie en Religie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap