In hierdie aflewering kyk ons na die ontstaan van die Hervormde Kerk se tydskrifte.
Na die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) het die heropbou van die Hervormde Kerk met groot opoffering gepaard gegaan. Ten spyte van moeilike finansiële omstandighede, het lidmate en predikante in geloof en met groot ywer gewerk aan die opbou van die Kerk. Een van die sake wat vroeg op die tafel gekom het, was die ontwikkeling van kerklike publikasies.
De Transvaalsche Kerkbode
Veranderende omstandighede het die Hervormde Kerk oortuig dat daar ’n behoefte aan kerklike tydskrifte bestaan, om belangrike inligting aan lidmate oor te dra. Veral maatskaplike probleme na die oorlog het die vraag na kerklike hulp en leiding beklemtoon. Terselfdertyd het ds Jac van Belkum en oudl ADW Wolmarans dit voortdurend beklemtoon dat die identiteit van die Hervormde Kerk gehandhaaf moes word.
Die eerste poging om ’n kerklike tydskrif te vestig, was in 1899, toe De Hervormer onder leiding van ds MJ Goddefroy verskyn het. Die oorlog het dit egter tot ’n einde gebring. Na die oorlog het De Transvaalsche Kerkbode in September 1904 die eerste maal verskyn. Prof Muller was die hoofredakteur en hy het die bedoeling van die blad so geformuleer: Zijn plan is met Gods hulp te stichten en te leeren, en verstandig te maken in de dingen van Gods Koninkrijk. Een discipel van Christus wil hij zijn en als zoodanig zich betoonen in uw midden…
Die Transvaalsche Kerkbode het nie lank bestaan nie, as gevolg van ’n tekort aan finansies. Tog gee die blad ’n interessante beeld van die Hervormde Kerk in die tyd. Dit is opvallend hoe kerklike leiers die eie aard van die Hervormde Kerk wou beskerm en beklemtoon. Dit is veral opvallend in die rubriek Brieven van Oom Sarel, wat deur ds Jac van Belkum geskryf is. Oom Sarel het onder andere genl JBM Hertzog se benadering om taal (Afrikaans) as grondslag van Afrikaner-identiteit te bevorder, gesteun.
’n Tweede saak waaroor Oom Sarel hom skerp uitgelaat het, was die opkoms van die Metodisme. Daar was twee benaderings om nuwe lewe in die kerk te blaas: Daar was dié wat die bestaande gebruike wou handhaaf; ander wou groter ruimte skep vir herlewingsaksies. Van Belkum skryf onder andere: Neen, de Zuid-Afrikaansche kerk, die in die laatste jaren zooveel overnam van het Engelsch-Amerikaansche methodisme, die haar heil zocht in uiterlijken opwekkingen en bekeeringen, in schijn en groot vertoon, moet zich van alle uiterlijkheden onthouden en zuiver en alleen zich bepalen bij het Woord Gods…
Oom Sarel het hom ook oor die maatskaplike probleme van die Afrikanervolk bekommer en hom daaroor uitgelaat. In Junie 1905 skryf hy: Maar ik zie ook verschrikkelijk veel ellende hier en daar. Ik zie op sommige plaatsen pandokkies staan, volgestopt met menschen, groot en klein, slecht gekleed, slecht gevoed, en aan tijdelijke en geestelijke ellende overgegeven. Deze menschen leven bijna zonder iets, ze komen om van vuil, ellende en gebrek. Het zijn de arme blanken…
Almanak
Nadat die Transvaalsche Kerkbode doodgeloop het, is op ’n jaarblad besluit. So het die Almanak aan die einde van 1907 die eerste maal verskyn. Behalwe die kalenders vir die jaar 1907, het dit ook gemeentelike gegewens en statistieke bevat. Daarnaas was daar ’n kort lewensbeskrywing van ds NJ van Warmelo, die eerste predikant van Soutpansberg en Heidelberg. Verder is die blad gevul met ’n kortverhaal en ’n groot hoeveelheid advertensies, asook gemeentes se inligting.
In die Almanak van 1908 word redelik uitvoerige gemeentelike statistieke gegee, asook kerklike en skoolkalenders. In die Almanak van 1909 is prof PJ Muller se herinneringe aan sy dienstyd in Suid-Afrika gepubliseer. Terselfdertyd het ds Van Belkum die eerste keer begin om foto’s van kerkmense, met ’n kort lewensbeskrywing daarby, te publiseer. Die afgelope 113 jaar het die Almanak ononderbroke verskyn en het dit uitgegroei tot ’n publikasie met ’n vaste plek in die Hervormde Kerk.
Die Hervormer
Op 15 Mei 1909 het ds Jac van Belkum weer met ’n kerklike maandblad begin. Die naam van die eerste kerklike maandblad, De Hervormer, is weer gebruik. In hierdie uitgawe vertel Oom Sarel dat die uitgawe van De Transvaalsche Kerkbode gestaak is, …omdat de courantenlezers het betalen heeft gestaakt. Die Hervormer was vir baie lidmate ’n bron van inligting en bemoediging. Terselfdertyd was dit deur sy gemeentelike berigte ’n skakel tussen die verskillende gemeentes en het dit geweldig baie bygedra om die eenheid tussen lidmate en gemeentes van die Hervormde Kerk te bevorder. Predikante en lidmate kon in mekaar se vreugde en smart deel en mekaar bemoedig.
Vir meer as 70 jaar het die Almanak en Die Hervormer ’n waardevolle diens aan die Hervormde Kerk gelewer, om inligting beskikbaar te stel en geloofskennis te vermeerder. Dit is later aangevul met ander publikasies soos Konteks, Die Christelike Vrou, Blitspos, die Bybelse Dagboek, die Studente Hervormer, die Hervormde Teologiese Studies, die Tydskrif vir Hervormde Teologie en nog ander. Gemeenteblaaie het ook ’n bekende verskynsel geword. Tans is die webblad van die Hervormde Kerk, asook aanlyn publikasies, die grootste bron van inligting vir lidmate van die Hervormde Kerk.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)