Een van die kenmerkende eienskappe van die Hervormde Kerk is die unieke teologie wat in die Kerk beoefen word. Hervormde teologie was altyd iets anders as Gereformeerde teologie, wat byna uitsluitlik teruggryp na die formulerings van Johannes Calvyn en die Sinode van Dordt (1618-1619).

Hervormde teologie word dikwels met die term Bybels-Reformatories beskryf: ’n teologie wat erns maak met die Bybel, maar tegelykertyd ruim genoeg is om diverse reformatoriese denkrigtings te akkommodeer. Die Hervormde Kerk het deur die geskiedenis teoloë oor die hele spektrum van teologie geduld: van ortodoks-konfessioneel tot liberaal, met ’n beduidende groep wat ’n middelposisie inneem.

In die volgende paar aflewerings van hierdie rubriek sal enkele van hierdie denkrigtings in Hervormde teologie bespreek word.

Die eerste denkrigting wat aan die orde gestel word, is die etiese teologie wat aan die einde van die 19de eeu en begin van die 20ste eeu baie invloed in Nederland, maar ook in Suid-Afrika en in besonder in die Hervormde Kerk, uitgeoefen het. Die rede daarvoor is voor die hand liggend: In daardie stadium het byna al die Hervormde predikante uit Nederland gekom.

Die etiese denkrigting het aan die een kant kritiese teologie beoefen wat nie gehuiwer het om moeilike vrae aan die orde te stel nie, ook ten opsigte van ons verstaan van die Bybel. Tegelykertyd staan die etiese teologie lojaal teenoor die kerk en die kerklike belydenis. Etiese teologie kan beskou word as ’n gematigde teologie wat doelbewus verskillende teologiese pole wou versoen. Om dié rede praat Haitjema konsekwent van ’n eties-ireniese teologie. Die poging om uiteenlopende standpunte op ’n Christelike wyse en in vrede met mekaar in gesprek te bring, blyk uit die titels van die twee tydskrifte wat vanuit die etiese denkrigting gepubliseer is, te wete Waarheid en Vrede asook Ernst en Vrede.

Soos alle teologie (ook ons eietydse teologie), was die etiese teologie ’n produk van ’n bepaalde tyd en bepaalde omstandighede. Die etiese teologie moet verstaan word teen die agtergrond van die Aufklärung en die Réveil, asook die teologiese en filosofiese strominge wat daaruit voortgevloei het. Die invloed van Immanuel Kant moet ook veronderstel word. In die Aufklärung staan die rede en verstand van die mens sentraal en lei dit tot ’n teologie wat die toets van redelikheid en wetenskaplikheid moet deurstaan. In die Réveil staan die menslike emosie en godsdienstige ervaring sentraal, wat lei tot ’n teologie wat die individuele mens as uitgangspunt het.

In Nederland is die Réveil deur die gereformeerde ortodoksie vir hulself toegeëien. Die evangeliese drang van die Réveil is behou, maar is sterk beïnvloed deur ortodokse standpunte.

Die etiese teologie het van 1870 tot 1920 ’n prominente deel van die Nederlandse teologiese landskap uitgemaak. Dit was juis in hierdie tyd dat die Hervormde Kerk die meeste van sy predikante uit Nederland gekry het. Die etiese teologie verdwyn teen die middel van die 20ste eeu van die toneel, wat moontlik verband hou met die opkoms van die dialektiese teologie. 

’n Verdere belangrike ontwikkeling in die etiese teologie was die toenemende belangstelling in Godsdienswetenskap, wat van die begin af by die Fakulteit Teologie gedoseer is en ’n sterk invloed op Hervormde predikante uitgeoefen het. Teoloë van die Hervormde Kerk wat ’n groot invloed in die Kerk maar ook by die Universiteit van Pretoria gehad het, was prof HP Wolmarans, prof FJ van Zyl, prof PS Dreyer, prof PJ van der Merwe en tans prof J Beyers. In Nederland was etiese teoloë soos JJP Valeton (jr) en G Wildeboer (albei Ou Testamentici) ook bekwame godsdienswetenskaplikes. Hulle bestudeer die godsdiens van Israel, maar beskryf dit vanuit ’n godsdienswetenskaplike perspektief. Die etiese teologie word veral met die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Groningen geassosieer. Dit is ook opmerklik dat vroeë godsdienswetenskaplikes van die Hervormde Kerk (HP Wolmarans en PS Dreyer) aan die Universiteit van Groningen studeer het. Die kerngedagtes van die Groningen-teologie was ’n sterk historiese bewussyn; klem op die gemoedslewe van die mens; en die opvoeding tot menslikheid en medemenslikheid.

Maar waar kom die benaming etiese teologie vandaan? Die term eties gaan nie in die eerste plek oor reg en verkeerd (etiek) nie, maar word afgelei van die Griekse woord ethos, wat dui op die wese van iets. In die etiese teologie gaan dit om die wese van die waarheid. Die vraag is: Wat is waar? Hoe kan ons iets oor God sê wat “waar” is?

In die etiese teologie is waarheid nie objektiveerbaar of rasionaliseerbaar nie. Waarheid word ontmoet in die ruimte van ’n egte verhouding. Dit beteken dat waarheid nie objektief in kerklike dogma of leer vasgevang word of aan die menslike verstand onderworpe is nie. Die implikasies vir die teologie en vir ons geloof is duidelik. Die waarheid oor God kan nie deur die menslike verstand vasgevang of bewys word nie, maar kan net ontmoet word wanneer die mens in ontmoeting met God tree. Die mens het toegang tot die waarheid deur Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het. Waarheid is nie ’n stel feite of dogma nie, maar ’n Persoon – Jesus Christus wat gesê het Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe…

Ons kan slegs oor God praat as ons Jesus Christus ontmoet het en in ’n lewende verhouding met Hom staan. Die Waarheid wat ontmoet word, moet ook gehoorsaam word. Dit is hierdie waarheidsbegrip wat die etiese teologie in konflik gebring het met sowel die liberale as ortodokse teologie.

  (Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement  Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap