Dit word algemeen aanvaar dat die dialektiese teologie ’n groot invloed op Hervormde teologie uitoefen. Prof Jimmie Loader het by geleentheid geskryf dat daar ’n natuurlike ontwikkeling is vanaf die etiese teologie (wat ons in die vorige aflewering bespreek het) na die dialektiese teologie.

Die dialektiese teologie het daarin geslaag om op ’n meer sistematiese wyse as die etiese teologie antwoorde te bied op die vrae wat die Moderne Era aan die teologie gestel het. ’n Voorbeeld van hierdie ooreenkomste tussen die etiese  en dialektiese teologie vind ons in die werk van Emil Brunner, wat in sy Waarheid as ontmoeting dieselfde waarheidsbegrip huldig. Die ooreenkomste moet nie oordryf word nie, maar is tog opvallend.

Die eerste Hervormde dosent wat die dialektiese teologie in die Hervormde teologie ingedra het, was prof HP Wolmarans. Hendrik Petrus Wolmarans (1894-1980) is gebore in die Ermelo-distrik. Hy was saam met sy moeder in die konsentrasiekamp op Volksrust tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog. In 1917 word hy een van die eerste drie studente van die Hervormde Kerk wat teologie studeer aan die destydse Transvaal University College (TUC). Hierna word Wolmarans predikant en bedien hy gemeentes Zeerust (1921-1927) en Pietersburg (1927-1937). Dit is tydens sy jare in Pietersburg dat hy studieverlof ontvang om vanaf 1929-1932 ’n doktorsgraad in Godsdiensfilosofie aan die Ryksuniversiteit Groningen onder leiding van WJ Aalders, ʼn bekende eksponent van die etiese teologie, te verwerf.

Wolmarans word in 1935 as deeltydse dosent in Godsdiens- en Sendingwetenskap aangestel en in 1937 as vol professor. Ongelukkig is skriftelike akademiese uitsette van Wolmarans maar karig. In sy hele akademiese loopbaan het hy net vier artikels gepubliseer in die Hervormde Teologiese Studies. Een moontlike rede vir hierdie tekort aan bronne is die politieke spanning wat daar in die Fakulteit Teologie tussen die sogenaamde Nederlandsgesindes (byvoorbeeld proff Engelbrecht, Gemser en Van Selms) en die Afrikaansgesindes (byvoorbeeld prof HP Wolmarans) geheers het. Wolmarans het eers baie laat ’n redaksielid van die Hervormde Teologiese Studies geword. In ’n brief aan BJ Engelbrecht sit Wolmarans die saak soos volg uiteen: Ons afdeling van die Fakulteit is vandag in Suid-Afrika die bolwerk van Hollandse jingoïsme en die Hervormde Teologiese Studies is sy mondstuk. En op die Algemene Vergadering het u gesien dat ons mense, behalwe die Sappe, hier moeg van is. Hulle voel dit ook helemaal reg aan dat Hollandse jingoïsme en Engelse jingoïsme dieselfde ding is. Dís die motief wat van die begin af agter Teologiese Studies gesit het. Maar as jy en ek lid van die Redaksie ís sal dit ons taak wees om dit in Afrikaanse rigting te stuur en ons te versit teen die Hollandse jingoïsme (Wolmarans, 1951: Argiefbewaarnommer P5 3/2/8).

Die enigste werklike bronne wat van waarde is vir ’n bespreking oor die invloed van die dialektiese teologie op Wolmarans is sy proefskrif (Die Mens naar die beeld van God), sy professorale intreerede (Die betekenis van openbaringsbegrip vir onse tyd) en ’n artikel gepubliseer in die HTS in 1946 (Die analogia entis). In sy proefskrif haal Wolmarans Emil Brunner se Der Mittler (gepubliseer in 1927) en die eerste volume van Karl Barth se Kirchliche Dogmatik aan. Wolmarans gebruik deurlopend frases wat kenmerkend van dialektiese teologie is. ’n Enkele aanhaling vanuit sy proefskrif, waar hy die waarde van die openbaring bespreek, sal die punt illustreer: Die oneindige kloof van absoluut kwalitatiewe wesensverskil tussen Skepper en skepsel, is alleen op een manier te oorspan en dit is deur Gods ewige Woord. Dit was veral Karl Barth, in aansluiting by die filosoof Kierkegaard, wat van hierdie terminologie gebruik maak, onder andere in sy beroemde Der Römerbrief wat hy in 1919 voltooi het.

Wolmarans het konsekwent enige vorm van natuurteologie of natuurlike openbaring afgewys. In dié verband skryf Wolmarans: Die natuuropenbaring of algemene openbaring staan dus in beginsel teenoor wat die Christelike geloof ons leer. ’n Openbaring van God in die natuur is in stryd met die tweede gebod en moet daarom as onskriftuurlik verwerp word. Alhoewel Barth se afwysing van natuuropenbaring welbekend is en Wolmarans die eerste volume van die KD aanhaal in sy proefskrif, begrond hy sy bespreking op ’n artikel wat Barth en sy broer Heinrich in 1930 gepubliseer het. Wolmarans het egter as godsdiensfilosoof baie sterk by Brunner aangesluit. Vir sy voorbereiding vir sy klasse het hy woordelikse vertalings en opsommings gemaak van Brunner se Religionsphilosophie evangelischer Theologie en Der Mittler. Verder is die enigste aanhalings wat Wolmarans in sy professorale intreerede gebruik, dié wat van Brunner afkomstig is.

Wolmarans se teologie kan in sy eie woorde opgesom word, wanneer hy in sy professorale intreerede die volgende stelling maak: Dit is seker nie oordryf nie, as ons hier beklemtoon dat die Christelike openbaringsbegrip die hartaar van die Christelike teologie en die Christelike geloofslewe is. Met hierdie fokus op Christus as die openbaring van God, gevoed vanuit die dialektiese teologie, het prof HP Wolmarans ’n wesenlike invloed op ’n hele geslag predikante van die Hervormde Kerk uitgeoefen en bygedra tot die vestiging van die dialektiese teologie in die Hervormde Kerk.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap