Verlede maand het die derde grootste verkiesing in Suid-Afrika plaasgevind, naamlik die verkiesing van ’n beheerliggaam vir elk van die ongeveer 23 000 openbare skole. Die Kerk het ’n besondere belang in die opvoeding en onderrig van ons kinders. Baie geluk aan elke leser van Die Hervormer wat gekies is om hul kinders se skool op hierdie wyse te dien. En sterkte! Hierdie gaan sonder twyfel ’n uitdagende termyn wees.
’n Sterk, waardegedrewe beheerliggaam is die lewensaar van elke skool. Hierdie termyn gaan egter in die besonder gekenmerk word deur die omstredenheid rondom die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Die wetsontwerp bevat onder andere bepalings wat handel oor die instelling van ’n verpligte graad R en die regulering van tuisonderrig om kwaliteitonderwys ook in daardie sektor te verseker. Dit is egter die bepalings wat sekere besluitnemingsprosesse sentraliseer wat pla.
Tydens die skrywe hiervan is die Nasionale Raad van Provinsies besig om die wetsontwerp te verwerk nadat dit reeds vroeër deur die Nasionale Vergadering aanvaar is. Daarna word dit aan die president voorgelê om onderteken te word. Hierdie drakoniese wetsontwerp wil onder meer die besluitnemingsmagte oor die taal- en toelatingsbeleid van openbare skole van beheerliggame wegneem en dit in die hande van provinsiale onderwysdepartementshoofde plaas. Openbare druk bou tans op en hierdie aanpassings aan die Skolewet gaan waarskynlik die onderwerp word van verskeie regsaksies indien dit aanvaar word.
Tans maak wetgewing voorsiening vir twee soorte skole: onafhanklike en openbare skole. Suid-Afrika het met ander woorde geen staatskole nie. In weerwil hiervan kry die staat in die Bela-wetsontwerp vetoreg oor taal- en toelatingsbeleid. In openbare skole het die ouergemeenskap inspraak in beleidsformulering deur middel van ’n verkose beheerliggaam waarin ouers die meerderheidsbelang het. Die beheerliggaam is immers in voeling met die unieke behoeftes, insluitend die taalbehoeftes, van die betrokke skool en ouergemeenskap. Die gesonde wisselwerking tussen die gemeenskap en die skool word egter nou ernstig in gedrang gebring.
Ek het voorheen in hierdie kolom my posisie verklaar wat my siening van die aandrang op moedertaalonderrig mag beïnvloed. My kinders, 9 en 11 jaar oud, se moedertaal en huistaal is Engels. Hulle floreer egter in ’n enkelmedium Afrikaanse openbare skool. Heelparty akademiese presteerders in hul skool, vanjaar se hoofdogter ingesluit, is nie moedertaal Afrikaanssprekers nie. Ek vermoed daar is talle ander Afrikaanse skole wat van dieselfde kan getuig. En daar is by my geen kommer dat my kinders, of ander nie-moedertaalsprekers in Afrikaanse skole, eendag ’n agterstand gaan hê in enige studie- of werkomgewing nie. Inteendeel…
Om die taal as onderrigmedium te laat groei, vereis ’n aandrang op taal van eie keuse en nie noodwendig moedertaal nie. Die woord moedertaal kom in elk geval nie in die Grondwet van Suid-Afrika voor nie. Artikel 29(2) lees: Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Om doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat enkelmediuminstellings oorweeg, aldus die opperwet van die land.
Natuurlik sal moedertaal in die meeste gevalle taal van eie keuse wees, maar dit is nie uitsluitlik so nie. Daar is talle redes waarom Afrikaans die onderrigmedium van keuse van party nie-moedertaalsprekers behoort te wees. Afrikaans is ’n jong, dinamiese en moderne taal wat relatief maklik aangeleer kan word danksy ’n eenvoudige grammatika, sinstruktuur en spraakpatroon. Daarbenewens is Afrikaans ’n hoogsontwikkelde akademiese en wetenskaplike taal.
Daar is toenemende navorsing wat aantoon dat meertaligheid ’n belangrike rol kan speel in kinders se kognitiewe ontwikkeling. Leerders wat blootgestel word aan onderrig in ’n ander taal as hul moedertaal, beskik dikwels oor groter kognitiewe vaardighede, soos behendigheid met probleemoplossing en kritiese denke, asook ’n verhoogde kulturele sensitiwiteit. Afrikaans is uitstekend geposisioneer om hierdie rol vir nie-moedertaalsprekers te vervul. Uiteindelik behoort die doel te wees om ’n onderrigomgewing te skep wat leerders toerus met die vaardighede wat hulle nodig het om te floreer, ongeag die taal waarin die onderrig plaasvind.
Die proses om ’n onderrigtaal te kies, behoort dus genuanseerd te wees. Die kwaliteit van die onderrig wat gelewer word, sal altyd die taal waarin dit aangebied word, troef. Goeie onderrig in ’n tweede taal is veel wensliker as swak kwaliteit onderrig in ’n leerder se moedertaal. En die kwaliteit van onderrig in Afrikaanse skole is oor die algemeen bo verdenking.
Volgens die grondliggende bepalings van die Grondwet moet die staat in elk geval praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van inheemse tale te verhoog en hul gebruik te bevorder (artikel 6[2]). Heftige pogings om Afrikaans se inheemse status te ontken, was tot dusver vrugteloos. In die Grondwethof in 2021, in ’n saak oor een van ons land se groot universiteite se taalbeleid, het die universiteit se regsverteenwoordiger aangevoer dat Afrikaans nie ’n inheemse taal in Suid-Afrika is nie. Regter Steven Majiedt se vraag: In watter land is Afrikaans dan nou wel inheems? het die senior advokaat nogal laat kleitrap. Die regter verduidelik dan op ’n voortreflike wyse waarom Afrikaans ’n inheemse taal is.
Die toekoms van Afrikaans as onderrigmedium lê steeds primêr by moedertaalsprekers, maar slegs in soverre hierdie sprekers daarin slaag om die taal as inklusief te bewys en te laat groei deur die toenemende en volgehoue toevoeging van nie-moedertaalsprekers tot die soetste taal se geledere. Indien die Bela-wetsontwerp nie gestuit word nie, gaan hierdie ideaal baie moeilik haalbaar wees.
